Wil jy Malema agter tralies sien?

Die burgerregte-organisasie AfriForum sal Julius Malema en die EFF moontlik bankrot moet laat verklaar in ’n poging om regskostes te verhaal wat deur Malema en die EFF aan AfriForum verskuldig is. Dít volg nadat die balju op 9 November 2018 slegs bates ter waarde van R66 550 in die EFF se hoofkantoor in Johannesburg kon vind om op beslag te lê. Malema het ook in die openbaar aangedui dat hy geen geld het om AfriForum te betaal nie. Malema en die EFF se bates is dus nie naastenby voldoende om hul skuld aan AfriForum te delg nie.

AfriForum het op 1 November 2018 ’n lasbrief by die Noord-Gautengse hoë hof in Pretoria bekom om beslag te lê op die roerende bates van sowel Malema as die EFF om ’n bedrag van R337 758,68 te delg wat deur Malema in sy persoonlike hoedanigheid en die EFF as party aan AfriForum verskuldig is. Dié bedrag is die totaal van drie kostebevele wat AfriForum sedert Maart 2017 teen hulle bekom het. Malema en die EFF het die afgelope week R126 703,59 aan AfriForum betaal, wat beteken dat die uitstaande bedrag wat op daardie stadium aan AfriForum verskuldig is R211 055,09 beloop het. Ná die Noord-Gautengse hoë hof op 14 November 2018 nóg twee kostebevele teen Julius Malema en die EFF in AfriForum se guns toegestaan het, beloop Malema en die EFF se uitstaande skuld aan AfriForum na raming meer as R400 000.

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, gaan dié organisasie in die komende week met sy regspan vergader om oor ’n strategie te besluit om die geld van Malema en die EFF te verhaal. Kriel wys daarop dat AfriForum vasberade is om die verskuldigde bedrag van Malema en die EFF te bekom – selfs al vereis dit dat die EFF se bates opgeveil en Malema en die EFF bankrot verklaar word.

“Hoewel Malema poog om die EFF as ’n sterk magsfaktor voor te hou, wys die feite eerder dat die party wanfunksioneel is en hul regsaksies en finansies swak bestuur,” sê Kriel. Volgens Kriel het Malema en die EFF se pogings om verantwoordelikheid vir hul optrede te probeer ontduik nou geboemerang en word daar met die kostebevele ’n duidelike boodskap aan hulle gestuur dat hulle nie bo die reg verhewe is nie. Kriel voeg by dat AfriForum die geld wat van Malema en die EFF verhaal word, sal aanwend om onteiening sonder vergoeding en grondgrype in die howe te beveg.

Die geld wat Malema en die EFF aan AfriForum skuld, vloei voort uit die saak waarin die Noord-Gautengse hoë hof op 7 Maart 2017 ’n interdik met koste in AfriForum se guns toegestaan het. Hiermee word Malema en die EFF verbied om mense aan te moedig om grond onwettig te beset. Malema en die EFF het daarna ’n tersydestellingsaansoek teen die interdik gebring, wat op 12 September 2017 aangehoor sou word. Die hof moes die saak egter uitstel nadat Malema en die EFF se hoofde van betoog laat ingedien is. Die regter het gevolglik ’n bestraffende kostebevel teen Malema en die EFF uitgereik. Met die hofverskyning in Februarie vanjaar het Malema en die EFF se regsverteenwoordigers nie opgedaag nie en die saak is in AfriForum se guns beslis met die tersydestellingsaansoek wat met koste van die hand gewys is.

Nadat Malema en die EFF die hofbevel van 7 Maart 2017 geminag het deur voort te gaan om mense aan te moedig om grond onwettig te beset, het AfriForum ’n saak van minagting van die hof teen Malema en die EFF aanhangig gemaak, wat op 14 November 2018 ’n aanvang sou neem. Malema en die EFF se regspan het hul antwoordende verklaring om die minagtingsaak teen te staan nie betyds ingedien nie, wat beteken dat die saak later aangehoor sal moet word. Op dié wyse het Malema en die EFF hulself nóg ’n kostebevel op die hals gehaal. Malema en die EFF se poging om op 14 November 2018 ’n dringende hofbevel te bekom wat AfriForum sou verhoed om die EFF se eiendom te verwyder en op ’n veiling te verkoop om regskostes te dek, het ook misluk. Regter Louw het beslis dat daar geen dringendheid aan dié saak is nie en het daarom nóg ’n kostebevel teen Malema en die EFF uitgereik.

Volgens Kriel sal AfriForum se regspan nou poog om die hangende saak van minagting van die hof teen Malema en die EFF so spoedig moontlik weer voor die hof te kry.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, sê dat al dink Malema skynbaar hy is onaantasbaar, is hy beslis nie bo die reg verhewe nie. AfriForum sal daarom volgens Kriel toesien dat Malema tot verantwoording geroep word. “Iemand soos Malema wat voorgee dat hy die arm mense verteenwoordig en dan die staatskas plunder om homself te verryk ten koste van dienslewering aan arm mense, moet ontbloot word vir wie en wat hy is,” sê Kriel.

Wil jy Malema agter tralies sien? Wys jou steun hier:

Oops! We could not locate your form.

Similar Posts