Voormalige Rwandese intelligensiehoof se moordenaars kan nou vervolg word

Die ondersoekbeampte in die moordsaak van kol. Patrick Karegeya, die voormalige intelligensiehoof van Rwanda, moet binne 14 dae aandui watter stappe hulle gedoen het om die verdagtes in dié saak te arresteer.

Dít volg nadat landdros Mashiane Mathopa vandag in die Randburgse landdroshof beslis het dat die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) se geregtelike doodsondersoek na die dood van kol. Karegeya, gestaak moet word.

Dít volg nadat adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaat vervolgingseenheid, ’n aansoek namens Karegeya se familie in hierdie verband gebring het.

Karegeya is op 31 Desember 2013 verwurg en dood in sy hotelkamer by die Michelangelo Hotel in Sandton gevind. Hy het asiel in Suid-Afrika gesoek nadat hy uit Rwanda gevlug het.

Luidens die polisiedossier het Karegeya ’n voormalige kollega en vriend in dié betrokke hotel ontmoet. Na Karegeya se dood het drie Rwandese mans – insluitend die vriend – Suid-Afrika binne ure verlaat. Daar is aantygings dat die Rwandese Ambassade van dié persone buite die hotel opgelaai en na Rwanda gevlieg het.

Nel het verlede week in die hof aangevoer dat die geregtelike doodsondersoek in dié verband die toesmeer van ’n gruwelike misdaad was. Hy meen ’n geregtelike ondersoek was nie die gepaste roete in hierdie saak nie en dat die NVG se besluit onverklaarbaar was in ag genome die inhoud van die dossier.

In sy uitspraak, sê die landdros dat die polisie en NVG glad nie aangedui het watter stappe hulle gedoen het om die verdagtes voor die hof te kry nie. Die landdros sê verder dat dit duidelik is dat die NVG weet wie die verdagtes in hierdie saak is en dat indien geregtigheid vertraag word, dit beteken dat geregtigheid ontken word.

“Dit is ’n baie positiewe uitspraak. Die NVG se instel van ’n geregtelike doodsondersoek was in hierdie geval ’n misbruik van regsprosesse om ’n onverklaarbare vertraging in die saak te probeer toesmeer. Ons sal die proses en die verloop daarvan noukeurig moniteer om toe te sien dat geregtigheid geskied,” sê adv. Nel.

Similar Posts