|

Verslag van ouditeur-generaal toon wanbesteding van belastinggeld

Inkomstebelasting het 36,45% van die totale begroting vir die 2015/2016-begrotingsjaar beloop. AfriForum het die gekonsolideerde algemene verslag oor die nasionale en provinsiale oudituitkomste vir die 2014/2015 finansiële jaar asook die beloftes wat die regering tydens die 2015-begrotingsrede gemaak het, ondersoek om vas te stel of belastingbetalers waarde vir hulle belastinggeld gekry het. Dit is duidelik dat growwe onreëlmatighede in die besteding van toegedeelde belastinggeld plaasvind en dat die instellings wat verantwoordelik is om dit te monitor, versuim om oortreders verantwoordbaar te hou.

“AfriForum het die gekonsolideerde algemene verslag oor die nasionale en provinsiale oudituitkomste vir die 2014/2015-boekjaar bestudeer. Volgens die ouditeur-generaal se verslag beloop onreëlmatige uitgawes R25,68 miljard  en 45% daarvan is op onderwys, gesondheid en openbare werke bestee. In Mpumalanga het onreëlmatige uitgawes meer as verdubbel,” het Monique Taute, AfriForum se nasionale veldtogkoördineerder, gesê.

Vrugtelose en verkwistende uitgawes het R936 miljoen beloop en ongemagtigde uitgawes het R1,64 miljard beloop. Beide die departement van openbare werke en die staatsinligting- en kommunikasiestelsel het ongemagtigde uitgawes aangegaan vir doeleindes waarvoor dit nie bedoel was nie. Die verslag stel dit duidelik dat swak voorbereide begrotings en onvoldoende beheer oor begrotings die hoofredes vir oorbesteding is.

“Ons glo die kern van die probleem is ʼn gebrek aan verantwoordelikheid. Die wet op openbare finansiële bestuur verskaf stappe wat deur rekenpligtige beamptes geneem moet word om onreëlmatige, vrugtelose, verkwistende en ongemagtigde uitgawes te ondersoek om te bepaal of enige amptenaar aanspreeklik is en om die geld te verhaal indien aanspreeklikheid bewys kan word. Die probleem is dat die meeste van die geouditeerdes nie voldoende beheermaatreëls geïmplementeer het in reaksie op die vorige jaar se oortredings nie. Aan die ander kant sê die ouditeur-generaal dat hulle nie die sake ondersoek nie, omdat dit die rol van die rekenpligtige beamptes en toesighoudende liggame is,” het Taute bygevoeg.

Taute het verder genoem dat onderwys volgens die ouditeur-generaal se verslag een van die grootste besteders van onreëlmatige, vrugtelose, verkwistende en ongemagtigde uitgawes was en ʼn totaal van R2,90 miljard beloop het. Die publiek het die reg om te weet waarop hierdie geld bestee is. Die onderwyssektor in Suid-Afrika is ʼn nasionale krisis en dit is onaanvaarbaar dat miljoene rande deur onbekwame staatsamptenare vermors word.

“Die idee met hierdie veldtog is om die gebrek aan verantwoordelikheid aan te spreek en om seker te maak dat staatsamptenare verantwoordelik gehou word. Belastingbetalers het die reg om te weet waarvoor hulle betaal. Uit wat ons in hierdie verslag en in die 2015-statistieke sien, is dit duidelik dat die regering weereens versuim het om sy verantwoordelikhede in die 2015/2016-begrotingsjaar na te kom. Die regering misbruik belastingbetalers, want selfs al styg inkomstebelasting, kom die staat steeds nie sy primêre verantwoordelikhede na nie,” het Taute afgesluit.

AfriForum moedig die publiek aan om die organisasie se petisie teen die misbruik van toegekende belastinggeld te ondersteun deur ʼn SMS met hul naam na 45352 (R1) te stuur of deur die petisie op AfriForum se webtuiste by www.afriforum.co.za te onderteken.

Similar Posts