| |

Verslag oor die kaping van die strafregstelsel vrygestel

AfriForum het vandag tydens ’n mediakonferensie in Centurion ’n verslag rakende die beweerde kaping van die strafregstelsel, getiteld ‘Joining the Dots’, vrygestel.

Volgens die verslag, saamgestel deur Paul O’Sullivan, het president Jacob Zuma beheer oor die strafregstelsel verkry om te verseker dat strafregtelike klagtes teen homself, sy familielede en hul vennote ontspoor word.

“Aangesien die strafregstelsel in werklikheid gekaap is deur kriminele, is dit hoogs onwaarskynlik dat enige strafmaatreëls uit hierdie dokument sal voortspruit indien dit slegs by die polisie ingedien word. Die verslag gaan dus ook aan die Openbare Beskermer vir verdere ondersoek oorhandig word,” sê Monique Taute, hoof van AfriForum se teenkorrupsie-eenheid.

Taute voeg by dat president Zuma beheer oor die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) en die Valke verkry het. Volgens die verslag kan president Jacob Zuma, Vinesh Moonoo, Mthandazo Ntlemeza, Prince Mokotedi, Nkosinathi Nhleko en Shaun Abrahams strafregtelik aangekla word van rampokkery, korrupsie en regsverydeling.

“Hierdie mense moet strafregtelike klagtes in die gesig staar indien hulle onwettig en met opset ‘vergoeding’ soos vervat in die Wet op die Voorkoming en Bestryding van Korrupte Bedrywighede, 2004 (Wetno. 12 van 2004) ontvang het in ruil vir die onwettige ontsporing van strafregtelike klagtes teen president Zuma en/of sy familielede en hul vennote,” sluit Taute af.

Die publiek kan AfriForum se stryd teen korrupsie ondersteun deur ’n SMS met hul naam en “KORRUPSIE” na 38312 te stuur om R10 tot die teenkorrupsiefonds by te dra.

Om die verslag te lees, kliek hier Joining the dots-online.

Similar Posts