Verkragter se boetestraf geappelleer nadat AfriForum se privaatvervolgingseenheid aan NVG skryf

Adv. Moipone Noko, direkteur van openbare vervolging vir die Noordwes-afdeling, het gister bekend gemaak dat die staat stappe gaan doen om teen ’n boete-oplegging as straf vir ’n veroordeelde verkragter te appelleer. Dít volg nadat AfriForum se privaatvervolgingseenheid ’n skrywe aan Shamila Batohi, hoof van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), in hierdie verband gerig het. Landdros Ike Motswai het op 16 Julie 2019 ’n vonnis van agt jaar gevangenisstraf óf die keuse van ’n R10 000-boete vir die veroordeelde verkragter Kebabaletsoe Motseko in die Ga-Rankuwa-landdroshof opgelê.

Die klagtes het betrekking op die verkragting van die studenteslagoffer Reneiloe Motsepe in September 2018. Hoewel Motsepe direk ná die voorval ’n klagte van verkragting by die polisie aanhangig gemaak het, het die SAPD in Ga-Rankuwa egter aanvanklik met die saak gesloer. Motseko het skuldig gepleit op die verkragting van Motsepe.

AfriForum se privaatvervolgingseenheid het by die saak betrokke geraak nadat Motseko se familie probeer het om Motsepe om te koop om die saak te laat vaar. Motsepe se familie het die privaatvervolgingseenheid genader, waarna hulle die nodige druk op die polisie toegepas het om die klagte te ondersoek. Dit het daartoe gelei dat Motseko uiteindelik deur die NVG vervolg is.

Die landdros het egter, ná verskeie uitstelle, besluit om nié die minimum vonnis vir verkragting op te lê nie, ten spyte daarvan dat daar geen wesenlike en dwingende omstandighede was om dié afwyking te regverdig nie. Die familie van die verkragter het boonop R10 000 by die hof gehad en kon die boete onmiddellik betaal sodat Motseko vrygelaat kon word.

“Dit is vir AfriForum se privaatvervolgingseenheid belangrik om by sake soos hierdie betrokke te raak. Eerstens omdat die polisie nie selektief kan wees met die vervolging van verdagtes nie en tweedens omdat die regstelsel hierdie slagoffer gefaal het. Die vonnis wat die landdros in hierdie saak opgelê het, is skokkend onvanpas en maak ’n bespotting van die regstelsel. Ons is tevrede dat ons druk die NVG oortuig het dat daar gronde is om te appelleer. Ons sal aanhou veg totdat geregtigheid in hierdie saak geskied het,” sê Andrew Leask, ondersoeker by AfriForum se privaatvervolgingseenheid.

Similar Posts