Twee getuig Duduzane Zuma het nie vinnig gery op dag van ongeluk

Die spoed waarteen Duduzane Zuma, seun van oudpres. Jacob Zuma, op die noodlottige dag gery het toe sy Porsche 911 op die M1-suid teen ’n minibus-taxi gebots het, was vandag die fokus van die verhoor in Randburgse landdroshof waarin hy op ’n klag van strafbare manslag en roekelose en nalatige bestuur verskyn het.

Zuma was op 1 Februarie 2014 omstreeks 21:30 in ’n ongeluk naby die Grayston-afrit betrokke waarin ’n vrou, Phumzile Dube, dood is.

Zuma het in kruisondervraging erken dat hy vroeër getuig het dat hy op die betrokke aand van die ongeluk tussen 90 km/h en 100 km/h gery het wat hy as “redelik” bestempel het gegewe die reënerige omstandighede.

Die staatsaanklaer, Yusuf Baba, wou van Zuma weet waarom sy verklaring aan die assessor, dat hy teen sowat 70 km/h gery het, nie ooreenstem met sy weergawes dat dit tussen 90 en 100 km/h was nie.

Zuma se verdediging het twee getuies geroep wat ook getuig het rondom die spoed wat Zuma gery het.

Konrad Lotter, ’n meganiese ingenieur wat ook as forensiese ingenieur werk op die gebied van rekonstruering van ongelukke en -tonele, het die spoed aan die hand van verskeie faktore bereken en tot die slotsom gekom dat Zuma sowat 87 km/h gery het. Op grond van die berekeninge meen hy kan ook verklaar word waarom die Porsche sowat 50 m noord van die taxi tot stilstand gekom het nadat dit gebots het.

Lotter het getuig dat die taxi en die Porsche min of meer dieselfde spoed gery het en dat die skade aan beide voertuie erger sou wees as die Porsche vinniger gery het.

Hy het ook geargumenteer dat die bande op Zuma se motor wyer as die normale was en gevolglik meer geneig is om in waterplasse of poele te gly (oftewel te aquaplain) soos wat Zuma se regspan aangevoer het die rede vir die ongeluk was.

Lotter het gesê Zuma het minder as die voorgestelde spoed op die pad gery en die gebeure stem ooreen dat hy beheer oor sy motor verloor het nadat dit ’n waterplas getref het. “Die kanse dat die Porsche gegly het in die waterpoel is nie ’n moontlikheid nie, maar eerder ’n waarskynlikheid.”

Zuma se regspan het in ’n verrassende wending na middagete ’n “onafhanklike ooggetuie” geroep om ook te getuig.

Michael Jankelowitz, ’n sportmotor-fanatikus, het getuig dat hy die betrokke aand van die ongeluk ook op die M1-suid gery het. Volgens hom het hy baie stadig (sowat 65 km/h) gery omdat dit baie hard gereën het. Hy het in die tweede regterkantse baan gery en ’n Porsche, wat aan die beskrywing van Zuma se motor voldoen, het teen ’n redelike spoed verby hom gery, maar nie “verbygevlieg” nie.

Volgens hom kon hy selfs die registrasienommer van die Porsche sien.

Naby die Grayston-afrit het hy aankomende ligte van vooraf gesien. “Ek het geweet ’n motor moes getol het, want ek het dit al voorheen gesien.”

Toe hy naby die voertuig kom het hy die Porsche in die regterkantste baan gesien. Hy het in sy truspieël die taxi in die heel verste anderkantste baan gesien wat ook in ’n noordelike rigting soos die Porsche gewys het. Hy het mense uit die taxi sien klim, maar nie gedink dat die twee voertuie in dieselfde ongeluk betrokke was nie.

Hy voer aan hy het ook nie gestop nie omdat hy nie gedink het dit is so ernstig nie.

Hy het daarna op radio 702 van die ongeluk gehoor en ingebel omdat hy gemeen het die beriggewing oor die ongeluk was oordrewe. Die omroeper het glo gesê die Porsche het gejaag en hy het nie daarmee saamgestem nie. Hy dink nie die omroeper het hom geglo nie. Hy het toe niks verder aan die saak gedoen nie hoewel die geregtelike doodsondersoek in 2014 begin het.

Jankelowitz het getuig hy het eers in 2017 weer aan die ongeluk gedink toe hy gehoor het adv. Gerrie Nel gaan Zuma vervolg.

Jankelowitz was van mening dat Nel sy mes vir Zuma in het en dat hy nie ’n regverdige verhoor sou kry nie. Hy het toe met Zuma se regspan kontak gemaak en sy weergawe van die gebeure gegee.

Baba het dit aan Jankelowitz gestel dat hy glad nie in geregtigheid belanggestel het nie, maar eerder in Nel. “Verduidelik andersins waarom jy nie na die polisie gegaan het nie én waarom jy so lank gevat het om na vore te kom?”

Jankelowitz het hierop geantwoord, sy siening was dat Nel daarop uit is om wraak te neem. Ek wou getuig om te keer dat die persoon (wat die Porsche bestuur het) nie geviktimiseer word nie.

Die staat en verdediging het beide hul saak gesluit. Die verhoor is tot 20 Junie uitgestel vir die partye se slotbetoë.

Landdros Tebogo Thupaatlase is op die bank.

Similar Posts