Thandi Modise in hof; AfriForum en NDBV kondig nuwe saak aan

Thandi Modise, voormalige voorsitter van die nasionale raad van provinsies en tans speaker van die nasionale vergadering, het vandag vir die eerste keer in die Potchefstroomse streekhof verskyn op aanklagtes van dieremishandeling. Die saak is tot 30 Oktober 2019 uitgestel wanneer Modise op dié klagtes sal pleit. Modise word privaat vervolg deur adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid. Adv. Nel tree namens die Nasionale Dierebeskermingsvereniging (NDBV) in dié saak op. Modise word privaat vervolg aangesien die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) geweier het om haar te vervolg ten spyte daarvan dat daar ’n prima facie-saak teen haar bestaan.

Modise moes op 21 Junie vanjaar haar eerste verskyning in die hof gemaak het, maar haar regspan het egter aangevoer dat sy weens haar verantwoordelikhede as parlementêre speaker en voorsittende beampte by pres. Cyril Ramaphosa se staatsrede in Kaapstad nie in die hof sal kan verskyn nie.

AfriForum en die NDBV het verder vandag bekend gemaak dat die burgerregte-organisasie se privaatvervolgingseenheid nóg ’n persoon namens die NDBV privaat gaan vervolg. Dit behels die privaat vervolging van Leon Thom, eienaar van Malati Dairy in Gravelotte, Limpopo. Ten spyte van verskeie waarskuwings en pogings deur die NDBV om die beweerde onnodige opsluiting en vasketting van Thom se melkkalwers stop te sit, het dit voortgeduur. Die NDBV het ingevolge die Wet op Verenigings vir die Voorkoming van Dieremishandeling, 1993 (wetno. 169 van 1993) die statutêre magte om oortreders privaat te vervolg indien die NVG weier om te vervolg.

“Die feit dat die NVG besluit het om Thandi Modise nie te vervolg nie selfs al het ’n sterk saak teen haar bestaan, is ’n ernstige skending van die beginsel van gelykheid voor die reg. Modise kan nie anders as ander landburgers deur die NVG behandel word net omdat sy ’n hoë politieke amp beklee nie. AfriForum se privaatvervolgingseenheid is juis gestig om in sake soos dié van Modise, waar die NVG oënskynlik om politieke redes sy plig versuim, toe te tree en privaat te vervolg om geregtigheid te help verseker,” sê Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum.

“Die NDBV, wat deur Gerrie Nel van AfriForum genader is, is baie dank aan die regspan verskuldig, waarsonder geregtigheid nie eens ’n moontlikheid sou wees nie weens die enorme ondersoekende proses en die regservaring wat van onskatbare waarde was. Soos Mahatma Gandhi gesê het: ‘Die grootheid van ’n nasie kan gemeet word aan die wyse waarop sy diere behandel word’,” sê Marcelle Meredith, uitvoerende direkteur van die NDBV.

Volg hierdie skakels vir agtergrond oor die saak teen Thandi Modise:

 

 

  

Similar Posts