Privaatvervolgingseenheid gryp in nadat Lesufi nie optree teen onderwyser wat weeskind verkrag nie

AfriForum se privaatvervolgingseenheid het druk op sowel Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys, as die SAPD geplaas nadat geen stappe aanvanklik teen ’n onderwyser van die Aha-Thuto Sekondêre Skool geneem is wat na bewering ’n 14-jarige skoolmeisie verkrag het nie. Dié onderwyser is (volgens bronne by die skool) van die skoolgrond verwyder en die polisie ondersoek nou die klagte teen hom.

Angel Ndaba, voorsitter van die skool se beheerliggaam, en Philemon Ndaba, voorsitter van die Suid-Afrikaanse burgerlike organisasie Sanco, het die privaatvervolgingseenheid genader nadat aantygings van verkragting teen een van die manlike onderwysers by die skool op dowe ore geval het. Dít volg ná ’n vergadering waarin die distriksbeamptes aangedui het dat hulle die saak na die distriksonderwysdepartement sou verwys vir verdere ondersoek.
Volgens bronne by die skool is die distriksbeampte wat versuim het om die saak te ondersoek en stappe teen die betrokke onderwyser te neem, intussen ook – danksy volgehoue druk deur AfriForum – gedemoveer.
’n Saak van verkragting is reeds in September 2018 teen die betrokke onderwyser by die polisie oopgemaak. Volgens Andrew Leask, ondersoeker by AfriForum se privaatvervolgingseenheid, is daar egter geen gevoel van dringendheid by die ondersoekbeampte om met die ondersoek te begin nie.

“Hierdie beweerde misdryf word in ’n baie ernstige lig beskou, aangesien ’n minderjarige kind betrokke is en die polisie spesifiek getaak is om kwesbare groepe soos vroue en kinders te beskerm. Die feit dat sowel die polisie as die provinsiale onderwysdepartement nie optree nie is ’n gruwelike versuiming van hul pligte en daarom het AfriForum se privaatvervolgingseenheid tot die saak toegetree. Die polisie kan nie selektief wees met die vervolging van verdagtes nie.”

Die Gautengse onderwysdepartement het byna onmiddellik stappe geneem toe daar vroeër vanjaar aantygings van seksuele aanranding teen ’n onderwyser van Bryanston High School was.

“Waarom tree Lesufi nie met dieselfde ywer teen die oortreder op wanneer die slagoffer ’n weeskind van ’n plattelandse skool is nie? Lesufi se tendens om net betrokke te raak by kwessies waar hy media-aandag kan geniet, is tot nadeel van die kwesbaarste leerders wat eintlik sy aandag en toewyding die nodigste het,” sê Carien Bloem, AfriForum se projekkoördineerder vir onderwys.

Similar Posts