Privaat vervolging: Eerste verskyning van bekende Pretoriase sakeman op aanklagte van verkragting

Die privaat vervolging deur AfriForum se privaatvervolgingseenheid van ’n bekende sakeman in die finansiële bedryf wat van verkragting aangekla word, is vandag in die Pretoria landdroshof tot 13 Junie 2019 uitgestel. Dít volg nadat die verdagte aangedui het dat hy adv. Barry Roux as sy regsverteenwoordiger wil aanstel en adv. Roux nie vandag beskikbaar was nie. Een van die voorwaardes van die uitstel – wat adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, geargumenteer het – is dat nóg die beskuldigde, nóg enige van sy getuies toegang tot sy minderjarige slagoffer mag hê, hangende die hofuitspraak.

Die hof het beveel dat nóg die identiteit van die beskuldigde, nóg enige inligting oor die misdaad bekend gemaak mag word. Dit is die privaatvervolgingseenheid se eerste saak van privaat vervolging en val in die kategorie van sake waar persone teen vervolging verskans word as gevolg van wie hulle is en watter rol hulle in die gemeenskap speel.

“AfriForum se privaatvervolgingseenheid kan nie toelaat dat persone soos dié met misdaad teen ’n weerlose minderjarige wegkom bloot omdat hy geld en status het nie. Die vervolgingseenheid is gestig met die doel om die beginsel van gelykheid voor die reg te bevestig. Dit was ook die basis van die opponering van die aansoek dat die verrigtinge in camera moes voortgaan. AfriForum se argument is dat alle beskuldigdes gelyk behandel moet word. Die Dros-saak en die hantering van die identiteit van die beskuldigde in daardie saak is as voorbeeld voorgehou,” sê Wico Swanepoel, ’n aanklaer by AfriForum se privaatvervolgingseenheid.

Similar Posts