| |

Organisasies verenig: Adjunkpresident moet ’n kommissie van ondersoek instel

 

Die burgerregtewaghond AfriForum, die Quaker Peace Centre en die FW de Klerk Stigting het vandag ’n aansoek in die Konstitusionele Hof gebring om Cyril Ramaphosa, Suid-Afrika se adjunkpresident, te gelas om ’n kommissie van ondersoek in te stel om bewerings van staatskaping of ’n stille coup te ondersoek. 

In hul aansoek versoek die organisasies die hof ook om pres. Jacob Zuma onbevoeg te verklaar om self ’n kommissie van ondersoek in te stel weens ’n konflik van belange soos vervat in artikel 96(2)(b) van die Grondwet.

“AfriForum is van mening dat Zuma ná die bekendmaking van die staatkapingsverslag deur adv. Thuli Madonsela, voormalige openbare beskermer, versuim het om ’n kommissie van ondersoek in te stel omdat daar ’n hoë risiko was om homself en sy medepligtiges bloot te stel of te impliseer. Dit is duidelik dat Zuma se persoonlike belange nie met sy amptelike verantwoordelikhede teenoor die land belyn is nie,” sê Monique Taute, hoof van AfriForum se teenkorrupsie-eenheid.

Taute noem ook dat artikel 90(1) van die Grondwet bepaal dat die adjunkpresident die uitsluitlike mag het om ’n kommissie van ondersoek onder dié omstandighede in te stel. Die adjunkpresident het reeds aangedui dat hy ten gunste van die instel van só ’n kommissie is.

“AfriForum sal aanhou om korrupsie te beveg en gelykheid voor die gereg te bevorder. Om Suid-Afrika se goeie naam in ere te herstel, verandering teweeg te bring en korrupsie in die land uit te roei, is dit uiters belangrik dat alle partye wat in die staatkapingsverslag geïmpliseer word, ondersoek, vervolg en verantwoordbaar gehou word.”

Die organisasies versoek die hof voorts om die regering te beveel om die kommissie van ondersoek van alle logistiese ondersteuning en hulpbronne te voorsien wat die voorsitter van só ’n kommissie redelikerwys mag versoek en in staat sal stel om ’n behoorlike ondersoek te doen.

Similar Posts