Onvolledige verklaring laat AfriForum se saak teen Thandi Modise sloer

Toe AfriForum se ondersoekspan gister uiteindelik kapt. Tebogo Mokolobate se verklaring oor die gebeure op Thandi Modise, voorsitter van die Nasionale Raad van Provinsies (NRP), se plaas in 2014 ontvang het, het ’n belangrike bladsy ontbreek.

Dit was die derde keer dat Mokolobate in die Potchefstroomse landdroshof verskyn het in AfriForum en die Nasionale Dierebeskermingsvereniging (NDBV) se privaat vervolging-saak teen Modise.

Dit volg nadat talle diere vier jaar gelede op Modise se plaas buite Potchefstroom gevrek het weens verhongering en mishandeling. Mokolobate, ’n kaptein in die Suid-Afrikaanse Polisiediens, was tydens die pleging van die beweerde misdaad hoof van Modise se sekuriteit.

Beide Mokolobate en Bejani Chauke, huidige raadgewer van pres. Cyril Ramaphosa en voormalige raadgewer van Modise, is vroeër kragtens artikel 205 van die Strafproseswet gedagvaar om in April in die Potchefstroomse landdroshof te verskyn om die vervolgingspan van wesenlike en toepaslike inligting in die saak teen Modise te voorsien.

Volgens AfriForum het Mokolobate en Chauke vir ’n geruime tyd nie gereageer op versoeke om verklarings in te dien nie. Mokolobate moes teen gister sy prokureur by die hof hê en sy oorspronklike, ondertekende verklaring verskaf. Chauke wel intussen sy onderneming nagekom om sy volledige, getekende verklaring te voorsien.

Mokolobate se prokureur het gister Kenny Makgetha, ’n ander prokureur, gevra om namens hom te verskyn. Makgetha het gevra dat die art. 205-prosedure wéér uitgestel moet word na ’n datum wanneer Mokolobate se oorspronklike prokureur beskikbaar kan wees. Hy het ook gesê dat Mokolobate se prokureur nog nie kans gehad het om die verklaring te bekyk nie.

Na ’n kort verdaging het Mokolobate se prokureur kans gehad om na sy verklaring te kyk. Mokolobate het toe dié verklaring, wat een bladsy kort, onderteken.

Indien hy nie gou die ontbrekende bladsy verskaf nie, sal hy op 15 Mei vir die vierde keer in dié hof moet verskyn om gehoor te gee aan AfriForum se dagvaarding ingevolge art. 205 van die Strafproseswet.

Similar Posts