‘Onaantasbare’ Malema en Moyane in adv. Nel se visier

Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se Privaatvervolgingseenheid, het vandag tydens ’n mediakonferensie aangekondig dat sy eenheid ’n mandamus-aansoek op die Nasionale Vervolgingsgesag (NGV) en die minister van justisie beteken het om die NVG deur die hof te dwing om ’n besluit te neem oor die vervolging van EFF-leier Julius Malema vir beweerde korrupsie, bedrog, geldwassery en rampokkery, wat met die On-Point-skandaal verband hou. Dit volg nadat die NVG vir langer as ’n jaar versuim om sy ondernemings aan AfriForum na te kom en ’n besluit oor Malema se vervolging te neem.

Nel het ook bekend gemaak dat AfriForum wel suksesvol druk op die NVG geplaas het om Malema op twee ander klagtes van onderskeidelik aanranding en die onwettige afvuur van ’n vuurwapen in ’n beboude gebied in die teenwoordigheid van 16 000 mense te vervolg. Malema verskyn op 20 November 2019 in die Randburgse landdroshof weens die aanranding van ’n senior polisie-offisier. Hy sal op klagtes van die nalatige afvuur van ’n vuurwapen en die onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie in die Mdantsane-landdroshof in die Oos-Kaap verskyn.

Adv. Nel het ook aangekondig dat sy eenheid ’n nolle prosequi-sertifikaat bekom het om Tom Moyane, voormalige kommissaris van SARS, privaat te vervolg.

Malema: On-Point Engineering

AfriForum het in April 2018 geëis dat die NVG die saak teen Malema oor die destydse korrupte bedrywighede van die maatskappy On-Point Engineering in Limpopo herinstel. On‑Point, waarby Malema se familietrust ’n belang het, was aangestel om die departement van paaie en vervoer in Limpopo in 2009 met infrastruktuurontwikkeling, -onderhoud en ‑beplanning te ondersteun en het omkoopgeld ontvang van suksesvolle tenderaars wat vir dié doel aangestel is.

AfriForum het reeds in Julie 2011 ’n saak teen Malema weens On-Point se korrupte bedrywighede by die polisie ingedien. Nadat die Valke dié klag ondersoek en bewyse van korrupsie gevind het, het die NVG begin om Malema te vervolg. Die saak teen Malema is egter in 2015 van die hofrol geskrap nadat een van Malema se medebeskuldigdes die verhoor weens siekte nie kon bywoon nie. Die NVG het versuim om die saak weer op die rol te plaas. AfriForum het in Maart 2018 ’n skrywe aan die NVG gestuur waarin die saak se herinstelling geëis word. Die NVG het AfriForum in reaksie hierop skriftelik ingelig dat die herinstelling van die klagtes teen Malema oorweeg word en dat ’n finale besluit teen Augustus 2018 geneem sou word. Die NVG het tot op hede steeds nie ’n besluit geneem om Malema te vervolg al dan nie.

“Die NVG het egter na bewering onlangs stappe gedoen om ’n paneel aan te stel om die besluit om Malema te vervolg al dan nie onder hersiening te neem. AfriForum en sy Privaatvervolgingseenheid kan hierdie stappe net vertolk as bloot nóg ’n doelbewuste poging van die NVG om die voortgesette vertraging van ’n besluit oor vervolging te regverdig. Dit is hoog tyd dat mense soos Malema – wat homself as bo die reg verhewe ag – verantwoording doen vir die miljoene rande waarmee hy en sy familie (ten koste van armes) deur dié beweerde bedrog en tenderkorrupsie verryk is. As die NVG nie kans sien om Malema te vervolg nie, moet hulle bloot so sê, want AfriForum en adv. Gerrie Nel staan gereed,” sê Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum.

“Die datum vir die opponering van die mandamus-aansoek is egter eers vir 20 Julie 2020 deur die hof op die rol geplaas. Deur die saak oor meer as agt maande aan te hoor, verydel die hof die doel van ’n mandamus-aansoek, aangesien ons hiermee bloot die NVG wil verplig om ’n besluit oor die vervolging van Malema te neem. Dít is ’n besluit wat reeds lank agterstallig is en dit laat vrae ontstaan oor die NVG se onwilligheid om daadwerklik teen Malema op te tree,” sê adv. Nel.

Malema: Onwettige afvuur van vuurwapen en aanranding

Die NVG het in September vanjaar bevestig dat hulle vir Malema en Mbuyiseni Ndlozi, EFF-woordvoerder, vir die beweerde aanranding van ’n SAPD-kolonel gaan vervolg.

AfriForum het ook in Oktober skriftelik bevestiging van die NVG ontvang dat hulle Malema gaan vervolg weens klagtes teen hom nadat hy tydens die EFF se vyfjaarfeesvieringe in 2018 skote afgevuur het met ’n voorwerp wat soos ’n aanvalsgeweer lyk. Dít volg nadat AfriForum in Julie vanjaar aangekondig het dat hulle die hof gaan nader met ’n mandamus-aansoek om die NVG te verplig om besluite te neem oor die vervolging van Malema in die sake teen hom.

Kriel sê dat die vervolging van Malema op dié twee aanklagte nie net ’n oorwinning is vir AfriForum nie, maar vir almal wat glo in die beginsel van gelykheid voor die reg.

Tom Moyane

AfriForum se Privaatvervolgingseenheid het ook ’n nolle prosequi-sertifikaat bekom om Tom Moyane privaat namens Lerato Maila te vervolg op ’n klag van aanranding met die bedoeling om ernstig te beseer, asook saakbeskadiging. Maila is die ma van Moyane se kleinkind en was tydens die beweerde voorval in ’n verhouding met Moyane se seun.

Volgens Maila het Tom Moyane haar in Mei 2018 by sy huis in Roodepoort, Gauteng aangerand deur haar op haar maag te krap, rond te stamp en in die gesig te skop. Moyane het ook haar selfoon voor die beweerde aanranding teen ’n muur stukkend gegooi toe hy besef dat sy besig is om hom op te neem. Maila het dadelik ná die beweerde voorval haar ma gebel, wat haar aangeraai het om ’n klag by die SAPD te lê. Die NVG het egter besluit om Moyane nié te vervolg nie, omdat daar volgens die NVG nie genoeg bewyse teen hom is nie.

“Gesien in die lig van die vlaag geweld teen vroue en kinders in die land is hierdie ’n baie belangrike saak waarby AfriForum se Privaatvervolgingseenheid moet betrokke raak. Sulke beweerde gedrag is aanduidend van ’n boelie en Moyane moet eenvoudig daarvoor verantwoording doen. Die NVG se versuim om hom te vervolg, is ook ’n growwe skending van hul grondwetlike plig om geregtigheid in die samelewing na te streef,” sê adv. Nel.

Similar Posts