NVG gaan Malema en Ndlozi vervolg vir beweerde aanranding van polisieman ná AfriForum druk volhou

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het AfriForum vandag in kennis gestel dat hulle Julius Malema, leier van die EFF, en Mbuyiseni Ndlozi, EFF-woordvoerder, gaan vervolg vir die beweerde aanranding van ’n kolonel in die SAPD.

Dít volg nadat AfriForum in Julie vanjaar aangekondig het dat hulle die hof gaan nader met ’n mandamus-aansoek om die NVG te verplig om besluite te neem oor die vervolging van Malema rakende hierdie en twee ander hangende sake teen hom.

Malema en Ndlozi het in April 2018 na bewering ’n senior polisieman in uniform aangerand tydens ’n voorval wat op kringtelevisiekameras vasgevang is. Die senior polisieman het ’n klag by die polisie aanhangig gemaak, maar dit het geen polisie-aandag geniet totdat AfriForum se privaatvervolgingseenheid in Januarie 2019 navraag oor die ondersoek gedoen het nie.

“Hoewel ons die NVG se besluit om te vervolg verwelkom, is dit betreurenswaardig dat AfriForum sóveel druk op hulle moet uitoefen om bloot hul grondwetlike plig na te kom. Ons sal die verloop van die saak noukeurig volg om te verseker dat geregtigheid vir die klaer geskied,” sê adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid.

Similar Posts