Moordsaak van voormalige Rwandese intelligensiehoof na NVG terugverwys

Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, het vandag in die Randburgse landdroshof verskyn in die informele geregtelike ondersoek na die dood van kol. Patrick Karegeya, voormalige intelligensiehoof van Rwanda. Die landdros het die saak tydens hierdie verrigtinge terugverwys na die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) om te besluit of hulle die verantwoordelike verdagtes, soos beslis in sy bevinding, gaan vervolg.

Die landdros het die ondersoekbeampte in die saak in Januarie 2019 beveel om aan te dui watter stappe hy gedoen het om die Rwandese verdagtes te arresteer, aangesien dié persone se identiteit en ligging bekend is. Die ondersoek is op die vorige geleentheid van die rol geskrap nadat adv. Nel ’n aansoek ingedien het dat daar geen rede is vir die lei van getuienis in ’n formele geregtelike ondersoek nie aangesien die landdros reeds al die getuienis voor hom het wat hom in staat sou stel om ’n bevinding rakende aanspreeklikheid te maak. Die ondersoekbeampte se verklaring het dit bevestig en die landdros het die ondersoek informeel afgehandel.
Die informele geregtelike ondersoek het bepaal dat die identiteit van die oorledene en die oorsaak en datum van dood bekend is, asook dat Karegeya se dood veroorsaak is deur ’n handeling wat neerkom op ’n misdryf. Die NVG kon dus reeds in 2014 begin het met vervolgingstappe op grond van die getuienis tot hulle beskikking. Die ingehandigde verklaring van die ondersoekbeampte dui verder daarop dat geen stappe gedoen is nie aangesien die verhouding tussen Suid-Afrika en Rwanda ’n rol gespeel het in die besluit om die verdagtes op te spoor. Die landdros se beslissing verplig verdere optrede van die NVG dat persone, wie se identiteite bekend is, ’n misdaad in Suid-Afrika gepleeg het. Hierdie bevinding sal dit baie moeilik maak vir die NVG om te besluit om nie te vervolg nie.

“Sou die NVG, Valke en polisie versuim om die verdagtes in hierdie saak te vervolg, sal dit beteken dat Suid-Afrika ’n veilige hawe vir sluipmoordenaars geword het. Hierdie uitspraak stuur ’n boodskap aan die polisie en die NVG dat hulle nie kan nalaat om misdadigers te vervolg bloot omdat hulle politieke verbintenisse het nie. Ons hoop dat die NVG nou hul wetlike verpligting sal nakom om hierdie verdagtes tot die volle omvang van die reg te vervolg. AfriForum se privaatvervolgingseenheid sal die proses en die verloop daarvan noukeurig moniteer en staan reg om aansoek te doen vir ’n nolle prosequi-sertifikaat sou die NVG weer eens versuim om geregtigheid na te jaag,” sê adv. Nel.

* Karegeya, wat asiel in Suid-Afrika gesoek het nadat hy vanuit Rwanda gevlug het, is in 2013 verwurg in ’n hotelkamer in Johannesburg gevind. Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het vyf jaar lank versuim om die skuldige partye te vervolg en besluit om in Januarie 2019 die saak voor die landdros in te dien vir ’n geregtelike ondersoek na Karegeya se dood. Dít volg nadat AfriForum se privaatvervolgingseenheid namens Karegeya se familie en ander partye genader is om vas te stel waarom sy dood nie behoorlik ondersoek word nie en ook nie ondersoek word met die oog daarop om die verantwoordelike persone te arresteer en te vervolg nie.

Similar Posts