Malema-klagte: NVG se gesloer is betreurenswaardig

Die burgerregte-organisasie AfriForum betreur die feit dat die nasionale vervolgingsgesag (NVG) huiwer om Julius Malema, leier van die EFF, voor die hof te daag om antwoorde te kry op sy oënskynlike kriminele gedrag tydens die EFF se vyfjaarfeesvieringe in 2018 toe hy klaarblyklik skote afgevuur het met ’n voorwerp wat soos ’n aanvalsgeweer lyk. AfriForum het strafregtelike klagtes teen Malema aanhangig gemaak kort nadat ’n videogreep van dié insident die rondte gedoen het.

Dit blyk dat die NVG se gesloer in dié aangeleentheid ter beskerming van Malema geskied, veral wanneer die nasionale verkiesing wat in Mei vanjaar plaasvind in ag geneem word. Indien die NVG met sy stilswye volhou, sal AfriForum alle remedies tot sy beskikking aanwend ten einde die vervolging in ’n rigting te dryf.

“Met hierdie saak is die NVG die geleentheid gegun om aan die publiek te bewys dat hulle misdade vervolg – ongeag die oortreder se identiteit en sonder enige vrees en/of voorkeur. Tans blyk dit egter dat die gemelde wetstoepassingsowerheid verkies om hul reeds verwronge beeld te handhaaf,” sê Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid.
“Indien die NVG nie daartoe in staat is of nie bereid is om Malema se vervolging te behartig nie, sal AfriForum se privaatvervolgingseenheid die leisels oorneem ten einde geregtigheid te laat geskied,” sluit Marnus Kamfer, AfriForum se regs-en-risikobestuurder, af.

Similar Posts