Malema in hof ná AfriForum hom aankla vir beweerde afvuur van skote

Julius Malema, leier van die EFF, het vandag ná volgehoue druk deur AfriForum in die Oos-Londense streekhof verskyn vir die afvuur van skote. Die verhoordatum is vir 24 Februarie 2020 vasgestel. Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) vervolg Malema vir die afvuur van ’n vuurwapen in ’n beboude of openbare plek sonder genoegsame rede, asook die besit van ’n vuurwapen en ammunisie sonder die nodige lisensie en magtiging.

Adriaan Snyman het ook vandag in die hof verskyn vir dieselfde insident. Snyman is na bewering die eienaar van ’n privaat sekuriteitsmaatskappy wat tydens die voorval dienste gelewer het aan die EFF. In beeldmateriaal van die voorval lyk dit of Snyman die geweer aan Malema oorhandig. Snyman word aangekla vir die beweerde onwettige besit van ’n vermeende vuurwapen en ammunisie, asook die feit dat hy dié vuurwapen skynbaar aan Malema oorhandig.

Dít volg nadat AfriForum in Augustus 2018 klagtes teen Malema en Snyman ingedien het nadat Malema na bewering tydens die EFF se vyfjaarfeesvieringe in Mdantsane in die Oos-Kaap verskeie skote met ’n aanvalsgeweer afgevuur het. Die NVG het egter gesloer met die besluit om vervolging in te stel, al dan nie, ten spyte van die feit dat daar prima facie bewyse bestaan dat Malema na bewering ’n misdryf gepleeg het.

“Dit is goed dat Malema en Snyman uiteindelik sy dag in die hof kry vir hierdie voorval. Ons het reeds gesien dat hierdie beweerde handeling van hom landwyd nagedoen is en die feit dat hy vir so lank nie daarvoor vervolg is nie, het daartoe gelei dat dit as aanvaarbare gedrag beskou word. Dit is betreurenswaardig dat AfriForum eers soveel druk op die NVG moes plaas voordat hulle besluit het om te vervolg, ten spyte van duidelike bewyse van die beweerde oortreding,” sê Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid.

AfriForum is egter bekommerd oor die feit dat die NVG steeds nie vir Marnus Kamfer, AfriForum se regs-en-risikobestuurder en ook die klaer in die saak, oor die hofdatum ingelig het nie.

“Dit is ongehoord dat die beskuldigde in ’n saak skynbaar meer regte het as die klaer. AfriForum sal hierdie verrigtinge dus fyn dophou om toe te sien dat geregtigheid geskied,” sê Kamfer.

Similar Posts