Getuies in Thandi Modise-saak weer op 6 Mei in hof

Bejani Chauke, raadgewer van pres. Cyril Ramaphosa, en kapt. Tebogo Mokolobate, het vandag hul opwagting by die Potchefstroomse landdroshof gemaak in AfriForum en die Nasionale Dierebeskermingsvereniging (NDBV) se privaat vervolging-saak teen Thandi Modise, voorsitter van die Nasionale Raad van Provinsies (NRP).

Chauke en Mokolobate is gedagvaar om vandag as getuies in dié saak te verskyn.

Dit volg nadat talle diere vier jaar gelede op Modise se plaas buite Potchefstroom gevrek het weens verhongering en mishandeling. Chauke was tydens die pleging van die beweerde misdaad Modise se raadgewer en Mokolobate, ’n kaptein in die Suid-Afrikaanse Polisiediens, was tydens die pleging van die beweerde misdaad hoof van Modise se sekuriteit.

Beide Chauke en Mokolobate was vroeër kragtens artikel 205 van die Strafproseswet gedagvaar om op 5 April in die Potchefstroomse landdroshof te verskyn om die vervolgingspan van wesenlike en toepaslike inligting in die saak teen Modise te voorsien.

Chauke kon na bewering weens mediese redes nie op die dag in die hof getuig nie. AfriForum het die verskoning egter nie aanvaar nie en vir ’n lasbrief vir sy arrestasie aansoek gedoen, wat tot vandag oorgestaan het.

AfriForum se privaatvervolgingseenheid het by ooreenkoms met Chauke se regsverteenwoordiger die uitgereikte lasbrief laat kanselleer nadat Chauke vandag in die hof teenwoordig was. Daar is ooreengekom om hierdie verklaring aan te vul voor 6 Mei 2019.

Mokolobate het wel op 5 April in die hof verskyn en ooreengekom dat hy op 10 April sy verklaring by die ondersoekbeampte in die saak by die privaatvervolgingskantoor sou aflê. Hoewel hy het met die ondersoekbeampte van die privaatvervolgingseenheid gekonsulteer het, is geen verklaring verskaf wat volgens adv. Gerrie Nel antwoorde op die wesenlike vrae bevat nie.

Nel wou Mokolobate vandag kruisondervra om wesenlike inligting in die saak te bekom, maar die saak is egter tot 6 Mei uitgestel omdat Mokolobate nie regsverteenwoordiging het nie.

Similar Posts