Gerrie Nel vervolg Thandi Modise op aanklagte van dieremishandeling

AfriForum en die Nasionale Dierebeskermingsvereniging (NDBV) het vandag tydens ’n mediakonferensie aangekondig dat adv. Gerrie Nel, hoof van die burgerregte-organisasie se privaatvervolgingseenheid, Thandi Modise, voorsitter van die nasionale raad van provinsies, namens die NDBV privaat gaan vervolg.
Die NDBV het in Julie 2014 ’n klagte ontvang en op een van die wreedste gevalle van dieremishandeling wat die welsynsorganisasie nóg teëgekom het, afgekom. Modise se plaas was besaai met die karkasse van meer as 50 varke en ander dooie diere soos ganse, eende, skape en bokke. Die oorlewende diere, insluitend varke, skape, hoenders en bokke, is sonder kos en water gelaat en was in ’n desperate toestand. Die NDBV moes 162 diere weens hul nypende omstandighede uitsit.
Die NDBV het ingevolge die Wet op Verenigings vir die Voorkoming van Dieremishandeling, 1993 (wetno. 169 van 1993) die statutêre magte om oortreders privaat te vervolg.

“AfriForum se privaatvervolgingseenheid het die saak ondersoek en bevind dat daar prima facie-bewyse is om Modise suksesvol te vervolg. Dit is noodsaaklik om privaat vervolging in te stel om te verseker dat geregtigheid geskied,” sê adv. Nel.
“Die NDBV kan in eie reg vervolg indien die direkteur van openbare vervolging weier om te vervolg. Ons het die NVG vandag geadviseer dat adv. Gerrie Nel die aanklaer op die privaatvervolgingsaak gaan wees op die aanklagte van dieremishandeling teen Modise. Die dieremishandeling op Modise se plaas was van die ergste waarmee ons nóg te make gehad het. Die diere is aan hul eie genade oorgelaat en talle diere het van die honger gevrek,” sê Marcelle Meredith, uitvoerende direkteur van die NDBV.

Die NDBV is dankbaar dat AfriForum adv. Nel se dienste beskikbaar stel om hul eerste privaatvervolgingsaak van stapel te stuur en te lei.

Similar Posts