Gabriella Engels en AfriForum bring hofaansoek teen Mugabe en minister

AfriForum het vandag ’n hersieningsaansoek by die Noord-Gautengse hoë hof ingedien waarin die hof gevra word om mev. Maite Nkoana-Mashabane, die minister van internasionale betrekkinge en samewerking, se besluit om diplomatieke immuniteit aan die Zimbabwiese presidentsvrou, mev. Grace Mugabe, toe te staan, ter syde te stel.

Volgens die eedsverklaring van mej. Gabriella Engels, wat deur mev. Mugabe in ’n hotelkamer in Johannesburg aangerand is, het die minister Artikel 7(2) van die wet op diplomatieke immuniteit en voorregte verkeerd vertolk en het sy nie oor die bevoegdheid beskik om immuniteit aan mev. Mugabe te verleen nie. Sy het ook nagelaat om in gedagte te hou dat die beweerde misdaad wat deur haar gepleeg is, neerkom op ’n ernstige misdaad soos in die wet uiteengesit.

Mej. Engels voer ook in haar eedsverklaring aan dat die Wet om Immuniteit van Buitelandse Moondhede (van 1981), die verlening van immuniteit aan staatshoofde  wat hulle skuldig maak aan die dood of beserings van mense in Suid-Afrika, uitdruklik uitsluit.

Indien staatshoofde nie eens oor die immuniteit hieroor beskik nie, is daar geen manier dat hulle gades of families dit kan kry nie.

Die hofaansoek behoort binne die volgende vier tot vyf maande in die Pretoriase hooggeregshof geargumenteer te word.

Similar Posts