Duduzane Zuma pleit onskuldig op klag van strafbare manslag

Duduzane Zuma, seun van oudpres. Jacob Zuma, se saak waarin hy van strafbare manslag en roekelose en nalatige bestuur aangekla word, het vandag in die Randburgse landdroshof begin.

Yusuf Baba, staatsaanklaer, het in die begin van die hofverrigtinge gesê een klag van strafbare manslag is laat vaar nadat ’n verslag van ’n patoloog getoon het dat Nanki Mashaba, een van die oorledenes, aan natuurlike oorsake dood is.

Phumzile Dube, die ander passasier, is dood in die motorongeluk wat in Februarie 2014 naby die Grayston-afrit plaasgevind het. Zuma het met sy Porsche 911 teen die vol minibus-taxi met insittendes gebots.

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het aanvanklik besluit om nie vir Zuma Jr. te vervolg nie, maar nadat AfriForum se privaatvervolgingseenheid aansoek gedoen het om Zuma Jr. privaat te vervolg, het die NVG egter sy aanvanklike besluit omgekeer. Elias Maangwale, ondersoeker vir AfriForum se privaatvervolgingseenheid, het Dube se familie vandag by die hof bygestaan.

Zuma is vandag deur adv. Mike Hellens (SC) verteenwoordig. Hy het met die aanvang van die saak ’n beëdigde verklaring ingedien waarin Zuma aanvoer dat hy terwyl hy op die betrokke dag op die pad gery het, ’n waterplas getref het wat hy nie gesien het nie. Dit het gereën en hy het beheer oor die voertuig verloor.

Hy voer aan dat hy ná die ongeluk verdere navorsing gedoen en ondersoek ingestel het, wat bevind het dat die betrokke Porsche 911-model wat Zuma besit, geneig is om in reënweer te gly. Dit word ook aan die ligte gewig en breë bande van die voertuig toegeskryf.

Hellens het artikels oor die meganiese en ander eienskappe van die voertuig ingehandig en die hof meegedeel dat Porsche-vervaardigers die probleem erken het en daarom aanpassings gemaak het aan ’n nuwe model wat vanjaar uitkom en juis aangepas is om reënweer beter te hanteer.

Nthombi Nkumalo, ’n werknemer van die SA Weerburo, was die staat se eerste getuie en het oor die weer en reën op die betrokke tyd getuig. Hy het gesê dit is nie moontlik om te sê hoeveel water daar op die hoofweg was waar die ongeluk gebeur het nie. Die naaste weerburokantoor is 3,6 km van waar die ongeluk gebeur het en dit is nie moontlik om te sê of dit oral ewe veel gereën het nie.

Jacques Cronjé, besturende motorhandelaar van Porsche Johannesburg, het ook getuig. Hy het verduidelik dat die Porsche 911 4×4 onder normale omstandighede baie stabiel en veilig is. Hy het aan die hand van ’n persoonlike ervaring met sy eie motor gesê dit is moontlik om ’n gebrek aan beheer te voel wanneer daar teen sowat 70 km/h deur water gery word. Hy het egter gesê dit is nie moontlik om te sê wat in ’n bepaalde situasie gebeur nie omdat baie faktore in ag geneem moet word. Hy het ook inligting gegee rondom die herstelwerk en dienste wat aan Zuma se motor gedoen is.

Die saak word na middagete voortgesit.

Similar Posts