|

Belasting skiet deur die dak, maar staatsdiens bly uiters swak

Die voormalige president van die VSA, FD Roosevelt, het gesê dat belasting soos ledegeld is wat landsburgers betaal vir die voorregte wat ons ontvang as gevolg van ons lidmaatskap aan ʼn georganiseerde samelewing. In Suid-Afrika trek lede egter aan die kortste ent, aangesien ledegeld aanhou styg terwyl ons samelewing lankal nie meer as georganiseerd beskryf kan word nie. 

Nhlanhla Nene, voormalige minister van finansies, het tydens sy begrotingsrede in Februarie 2015 ʼn verhoging in die koerse van persoonlike inkomstebelasting aangekondig. In Suid-Afrika is daar egter ʼn klein groepie mense wat uitsluitlik vir al die ledegeld verantwoordelik gehou word, terwyl die staat lidmaatskap vrylik uitdeel vir ander. Die 2016-begrotingsrede is om die draai, wat beteken dat belastingbetalers se hardverdiende inkomste weer in die glyskaal is.

Statistieke Suid-Afrika (SSA) het die land se bevolking in 2014 op 54 miljoen beraam, terwyl slegs 5,5 miljoen belastingopgawes by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) tydens die 2014-belastingseisoen ingedien is. Dit beteken dat slegs 10,22% van Suid-Afrikaners tot 100% van Suid-Afrika se belasting bydrae.

Terwyl die ANC die hef in die hand het, betaal ons as landsburgers ten duurste ledegeld vir ʼn uiters swak diens. Suid-Afrikaners voel die direkte effekte van staatsverswakking deur middel van beurtkrag, swak dienslewering, ʼn swak onderwysstelsel, ʼn hoë misdaadsyfer en ʼn lae ekonomiese groei.

Hierdie hoë ledegeld, wat betaalbaar is in ruil vir ʼn disfunksionele samelewing, laat talle hunker na die vleispotte van Egipte, terwyl ander ʼn beter heenkome in die buiteland gaan vind.

Maar wat word van dié van ons wat oorbly? Skep ons hoop vir ʼn land waar ons vry, veilig en voorspoedig kan lewe, of bly ons stil? Dít terwyl die ANC-regering mag en middele sentraliseer en herverdeel deur middel van maatskaplike toelae totdat ons almal ewe arm is? Of gaan ons eerder self verantwoordelikheid neem deur ons eie universiteite te bou, buurtwagte te stig en dienslewering te privatiseer? Kom ons bou ons eie instellings en vervang die wanfunksionerende staatsinstellings deur self ons samelewing te organiseer, soos wat ons wéét Afrikaners kan.

Monique Taute

Nasionale veldtogkoördineerder

AfriForum

Similar Posts