| |

AfriForum se teenkorrupsie-eenheid en Paul O’Sullivan maak korrupte handelinge van hoëprofielstaatsamptenare bekend

AfriForum het vandag sy teenkorrupsie-eenheid in samewerking met Paul O’Sullivan, forensiese speurder en gesertifiseerde bedrogondersoeker, tydens ’n mediakonferensie in Centurion bekend gestel. Die burgerregte-organisasie is dit lank reeds eens dat sistemiese korrupsie enige land op sy knieë kan dwing, en het daarom besluit om van die geleentheid gebruik te maak om te wys hoe die strafregstelsel deur die onderwêreld oorgeneem is.

 

“Dit is juis daardie instellings wat veronderstel is om  ons regskodes te handhaaf en ons teen misdaad moet beskerm wat in plaas daarvan deur kriminele met kentekens binnegedring is wat besluit het om liewer vennootskappe met die onderwêreld te sluit. Nou kan korrupte politici hul eie gierigheid met vryheid bevredig omdat hulle hulself bo die wet ag. Pleks daarvan om Suid-Afrikaners te beskerm, het hulle nou die vyande van Suid-Afrikaners geword en hul ampsede laat vaar, asook hul beloftes om by die Grondwet te hou,” sê Monique Taute, hoof van AfriForum se teenkorrupsie-eenheid.

Taute en haar span sal onder meer ʼn koördinerende rol speel om korrupsie deur hooggeplaastes te identifiseer, dit deur ervare ondersoekers te laat ondersoek, te verseker dat strafregtelike klagtes ingedien word, druk vir vervolging toe te pas deur korrupsie in die openbaar te ontbloot en openbare veldtogte teen korrupsie te voer.

“Ons beplan om korrupsie deur noue samewerking met Paul O’Sullivan uit te wis deur op verdienstelike gevalle te fokus en teen die staat te litigeer om die staat op dié wyse te dwing om sy verantwoordelik na te kom en kriminele agter tralies te plaas,” verduidelik sy.

AfriForum en O’Sullivan het tydens die openbare bekendstelling van die teenkorrupsie-eenheid oopgevlek hoe een krimineel van die Tsjeggiese Republiek bykans elke staatsliggaam kon binnedring om homself op dié wyse in staat te stel om ’n misdaadgolf te skep wat nog nooit voorheen deur die land beleef is nie.

 AfriForum en O’Sullivan het toe bewyse aan die media voorsien van Radovan Krejcir se samespannende, korrupte onderhandelinge met mense soos lt. genl. Vinesh Moonoo, maj. genl. Joey Mabasa, landdros Stephan Holzen en lt. genl. Richard Mdluli. Dié bewysstukke het ’n brief van Krejcir se prokureur ingesluit wat aan Andrew Chauke, direkteur van Openbare vervolging in Gauteng, gestuur is waarin Krejcir aanbied om bewyse teen dié persone te lewer, asook beëdigde verklarings deur getuies wat Krejcir se aanbod staaf om skoon te kom.

 AfriForum het ook op Dinsdag briewe namens O’Sullivan aan Cyril Ramaphosa, adjunkpresident van Suid-Afrika, en adv. Shawn Abrahams gerig. Die briewe het ’n opsomming gegee om bewyse onder hulle aandag te bring en ’n oproep op hulle gedoen om dié waardevolle geleentheid te gebruik om ernstige vordering te toon in die oorlog teen misdaad. Al dié dokumente kan by www.stopkorrupsie.co.za/afriforum-stel-sy-teenkorrupsie-eenheid-bekend besigtig word.

 “Geen een van Krejcir se misdade sou moontlik gewees het sonder die hulp en beskerming van senior amptenare in die strafregstelsel nie, wat, pleks daarvan om hom op te sluit, met hom saamgespan het om bedrog, korrupsie, afpersing, diefstal en moord te pleeg, asook om die gereg te dwarsboom. Ek het verskeie dossiere geopen wat volumes prima facie-bewyse teen dié senior beamptes bevat, en steeds het nie een van hulle tot op hede aan die pen gery nie. Pleks daarvan is ek op die mees ontstellende wyse aangeval wat met aansienlike staatshulpbronne uitgevoer is,” sê Paul O’Sullivan.

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, is die stigting van AfriForum se teenkorrupsie-eenheid genoodsaak deur die feit dat korrupsie soos ’n kanker onder die regering van Jacob Zuma versprei het en vinnig besig is om die land op sy knieë te dwing. Kriel het daarop gewys dat die situasie vererger word deurdat die strafregstelsel, wat korrupsie moet beveg, self deur kriminele geïnfiltreer is. Boonop is die strafregstelsel ook gedienstig aan gulsige politici wat hulself wil verryk. “Terwyl korrupte politici en hooggeplaastes nie vervolg word nie, word staathulpbronne misbruik om kampvegters teen korrupsie soos Paul O’Sullivan en Pravin Gordhan op bekookte aanklagte te vervolg,” het Kriel bygevoeg.

Die stigting van AfriForum se teenkorrupsie-eenheid is volgens Kriel slegs die eerste stap in AfriForum se stryd teen korrupsie. Daar word tans aan die tweede stap gewerk, naamlik om ’n privaat vervolgingseenheid tot stand te bring om korrupte persone self te vervolg wat om politieke redes deur die NVG beskerm word.

AfriForum moedig die publiek aan om hul geveg teen korrupsie te ondersteun deur ’n SMS met hul naam en “Korrupsie” na 38312 te stuur om op dié wyse R10 tot die teenkorrupsiefonds by te dra.

Similar Posts