AfriForum ondersteun slagoffer se familie teen internasionale korporatiewe boelie Ford

AfriForum het vandag aangekondig dat adv. Gerrie Nel, hoof van dié burgerregte-organisasie se privaatvervolgingseenheid, en sy span die Jimmy-familie teen die Ford-motormaatskappy ondersteun. Reshall Jimmy het in Desember 2015 doodgebrand toe die Ford Kuga waarin hy was aan die brand geslaan het.

“Die familie het vir bykans drie jaar lank gewag dat die saak ondersoek moet word. AfriForum het talle briewe geskryf om te versoek dat daar ’n formele geregtelike ondersoek na die omstandighede rondom en die oorsaak van die slagoffer se dood ingestel word. Die Jimmy-familie het uiteindelik ’n kennisgewing van die griffier van die Wes-Kaapse Hooggeregshof ontvang dat die geregtelike ondersoek op 4 Februarie 2019 sal plaasvind en dat die voorafverhoor binnekort ’n aanvang al neem,” sê Nel.

Nel sê dat hulle bly is dat die proses uiteindelik begin. “Dit was ’n baie traumatiese tyd vir die gesin, wat desperaat is vir genesing. Ons sal ons beskouing van en ervarings met Ford en hul regspan in die komende week of twee onthul – veral Ford se uitgesproke houding jeens hul kliënte,” gaan Nel voort.

“Advokaat Gerrie Nel en sy span was instrumenteel om ons familie te help om vir ’n geregtelike ondersoek na my broer se dood te veg. Sy volharding het hierdie ondersoekdatum moontlik gemaak. Ons geveg met Ford om met die waarheid oor die omstandighede rondom die brand vorendag te kom, is al vir jare aan die gang, en as familie is ons nie bereid om die geveg op te gee nie,” sê Renisha Jimmy, die slagoffer se suster.

“Al ons interaksies met Ford oor die afgelope drie jaar – waartydens ons daarop aangedring het dat hulle hul bevindinge onthul, maar wat hulle tot op datum nog nie gedoen het nie – kan nou deur die Hooggeregshof afgedwing word. Ons is vol vertroue dat die toepaslike gevolgtrekkings en bevindinge gemaak sal word,” sê Jimmy.

AfriForum se privaatvervolgingseenheid sal oor die ondersoek toesig hou om te verseker dat geregtigheid seëvier.

Similar Posts