|

AfriForum moedig staatsamptenare aan om korrupsie te rapporteer

Die burgerregtewaghond AfriForum het vandag ’n veldtog van stapel gestuur waarmee staatsamptenare aangemoedig word om enige korrupsie verwante klagtes by sy teenkorrupsie-eenheid aan te meld. AfriForum het ook hierdie week ’n nuwe webtuiste (www.stopkorrupsie.co.za) geloods waar korrupsie aangemeld kan word.

“Korrupsie is ’n ernstige bedreiging vir ons land se toekoms en het dus ’n uitwerking op elke landsburger en dikwels beïnvloed dit diegene wat finansieel die swaarste trek die ergste,” sê Monique Taute, hoof van AfriForum se teenkorrupsie-eenheid.

Taute sê verder sy glo vas dat daar staatsamptenare is wat die regte ding sal doen en korrupsie sal aanmeld sou dit in hul onderskeie departemente kop uitsteek.

AfriForum het voorts ook ’n bemarkingsveldtog geloods om staatsamptenare aan te moedig om korrupsie aan te meld. Plakkate kan in die middestad van Johannesburg en Pretoria gesien word omdat dit hier is waar die meerderheid staatsdepartemente se kantore geleë is.

Taute gee die versekering dat AfriForum seker sal maak dat staatsamptenare wat inligting met die organisasie deel, beskerm sal word. Die organisasie se teenkorrupsie-eenheid gaan ook strafregtelike klagtes teen korrupte staatsamptenare indien. Sou die nasionale vervolgingsgesag (NVG) versuim om beweerde korrupte persone te vervolg, sal AfriForum se privaat vervolgingseenheid onder leiding van adv. Gerrie Nel die saak vir privaat vervolging oorweeg.

“Suid-Afrika het staatsamptenare nodig wat werklik ’n verskil wil maak om korrupsie te help hokslaan. Ons wil staatsamptenare aanmoedig om hande met AfriForum te vat en saam met ons te sê genoeg is genoeg,” sluit Taute af.

Similar Posts