| |

AfriForum loods #StopDieBus-veldtog teen aanry van mense na presidensiële inhuldiging op munisipale onkoste

Vanjaar se presidensiële inhuldiging gaan nie slegs die grootste en duurste in Suid-Afrikaanse geskiedenis wees nie – die presidensie het boonop aangekondig dat munisipaliteite vanuit elk van die nege provinsies 2 000 mense (altesaam 18 000  mense) op eie onkoste na die Loftus Versfeld-stadion moet aanry. In die lig hiervan het AfriForum besluit om die #StopDieBus-veldtog van stapel te stuur.

Volgens die tesourie het die totale skuld van munisipaliteite in Suid-Afrika teen Desember 2017 reeds R138,2 miljard beloop, terwyl die 2019-begrotingsoorsig aandui dat 113 van die 278 munisipaliteite vanjaar onbefondsde begrotings het – wat beteken dat hulle nie genoeg geld het om hul uitgawes vir 2019 te dek nie. Die begrotingsoorsig bepaal verder dat elke munisipaliteit verantwoordelik is vir die prioritisering van hul hulpbronne en die vermindering van verkwistende besteding. AfriForum het daarom besluit om die ondertekening van protesbriewe teen die verdere vermorsing van munisipale fondse dwarsoor die land aan te moedig wat by die onderskeie munisipaliteite ingedien sal word. Die burgerregte-organisasie gaan ook in hierdie verband ’n protesbrief aan die presidensie stuur.

“Die presidensiële inhuldiging gaan die belastingbetaler reeds, volgens berekeninge, ongeveer R120 miljoen uit die sak jaag. Hierdie opdrag van die presidensie is ondeurdag en strook duidelik nie met die opdrag dat munisipaliteite verkwistende uitgawes moet besnoei nie. In die lig van die huidige ekonomiese toestand in Suid-Afrika is die omvang van hierdie presidensiële inhuldiging ligsinnig en ’n verdere vermorsing van geld in ’n krimpende staatskas,” sê Natasha Venter, veldtogbeampte by AfriForum.

Talle munisipaliteite, veral in plattelandse dorpe, verskaf nie eens basiese dienste aan inwoners nie.

“Ongereelde of geen watertoevoer, vullis wat nie verwyder word nie en rou riool wat in die strate loop is slegs enkele van die gevolge wat plattelandse inwoners daagliks in die gesig moet staar omdat munisipaliteite versuim om hul grondwetlike plig na te kom. Dit is onregverdig en onverantwoordelik van die presidensie om boonop hierdie juk op munisipaliteite te plaas,” sê Morné Mostert, AfriForum se hoof van plaaslikeregeringsake.

Inwoners word aangemoedig om die petisie te onderteken om sodoende te verhoed dat munisipaliteite nóg verder in die skuld gedompel word. Die petisie is aanlyn beskikbaar by http://bit.ly/2VjPTeO.

Similar Posts