| |

AfriForum lê klagtes nadat 13 provinsiale departementshoofde R11,63 miljard vermors

AfriForum se nasionale veldtog oor die wanbesteding van belastinggeld, “Genoeg is Genoeg”, is vandag tydens ’n mediakonferensie in Centurion bekend gestel. As deel van dié veldtog gaan AfriForum oor die volgende twee weke agt provinsies besoek waartydens strafregtelike klagtes ingevolge artikel 86(1) van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur, 1999 teen 13 provinsiale departementshoofde ingedien sal word.
Dié 13 departemente is deur die burgerregte-organisasie geïdentifiseer as die hoofbydraers tot onreëlmatige, vrugtelose, verkwistende en ongemagtigde uitgawes, wat altesaam R11,63 miljard van die totale vermorste bedrag van R28,26 miljard vir die 2014/2015-boekjaar beloop. Dié inligting is bekom uit die ouditeur-generaal (OG) se algemene gekonsolideerde jaarverslag.

AfriForum het ook die jaarverslae van die onderskeie departemente bestudeer.

Die eerste klagtes is na afloop van die mediakonferensie teen die vier Gautengse departementshoofde by die Johannesburg-Sentraal Polisiestasie ingedien. Dié departemente is onderskeidelik die departement van paaie en vervoer, gesondheid, onderwys en menslike nedersettings. Van dié vier is die departement van paaie en vervoer volgens die OG-verslag die grootste sondebok: onreëlmatige, vrugtelose, verkwistende en ongemagtigde uitgawes vir dié departement beloop R2,19 miljard.

“Die wanbesteding van belastinggeld is ’n nasionale krisis. Dit is tyd dat belastingbetalers druk op die Nasionale Vervolgingsgesag plaas om ’n voorbeeld van departementshoofde te maak wat nie hul pligte ingevolge die wet nakom nie. Dié departementshoofde is van die grootste bydraers tot die vermorsing van belastingbetalergeld,” het Monique Taute, AfriForum se nasionale veldtogkoördineerder, gesê.

Volgens Taute is die klagtes teen die departementshoofde gebaseer op hul beweerde finansiële wanbesteding ingevolge die wet.

“Die departementshoofde is die rekenpligtige beamptes wat verantwoordelik is om onreëlmatige, vrugtelose, verkwistende en ongemagtigde uitgawes te voorkom en skuldige partye aanspreeklik te hou.”

Taute het voorts gesê dat die departementshoofde ook verplig is om volledige rekords van die departement se finansiële sake in ooreenstemming met die voorgeskrewe wetgewing, norme en standaarde te hou.

 “Dit is uit die dertien departemente se jaarverslae, asook die OG-verslag, duidelik dat daar glad nie aan hierdie verantwoordelikhede voldoen word nie.”

AfriForum wil die publiek aanmoedig om die nodige druk op die Nasionale Vervolgingsgesag te plaas deur ’n SMS met hul naam na 45352 te stuur (R1) of die klagtes op AfriForum se webtuiste by www.afriforum.co.za te onderteken.

Lees die verslag hier.

Similar Posts