|

AfriForum kla binnekort departemente vir miljarde rande se wanbesteding aan

Die burgerregte-organisasie gaan binnekort verskeie nasionale staatsdepartemente strafregtelik aankla vir beweerde wanbesteding van meer as R16 miljard gedurende die 2015/2016 geldjaar.

AfriForum het pas ’n omvattende verslag bekend gemaak waarin die wanbesteding uiteengesit is. Die grootste sondebokke is die departemente van vervoer, water en sanitasie en basiese onderwys. Dié drie is gesamentlik vir wanbesteding van bykans R9 miljard verantwoordelik.

Monique Taute, hoof van AfriForum se teenkorrupsie-eenheid, meen staatsdepartemente moet tot verantwoording geroep word vir die wyse waarop belastingbetalers se geld verkwis word. Die klagte wat ingedien sal word, is ook deel van AfriForum se fluitjieblaser-veldtog waar ’n beroep op die publiek sowel as amptenare gedoen word om korrupsie in departemente by AfriForum aan te meld.

Die inligting rondom wanbesteding is bekom uit die jaarverslae van die departemente, sowel as verslae van die ouditeur-generaal (OG).

Volgens Taute het die departement van vervoer ’n opgelope bedrag van R4,23 miljard wanbestee. “’n Funksionele openbare vervoerstelsel is van kritieke belang vir die groei en vooruitgang van Suid-Afrika. Dit is onaanvaarbaar dat dié departement meer as R4 miljard wanbestee het, terwyl die tekort aan behoorlike openbare vervoerinfrastruktuur duisende landsburgers benadeel.”

Taute meen die departement van water en sanitasie se wanbesteding van R2,58 miljard is ook skreiend aangesien talle gemeenskappe nie toegang tot skoon en drinkbare water het nie. “In 2015 het meer as 25% van huishoudings gereelde watertoevoerprobleme aangemeld. Met tye was die watertoevoer vir twee opeenvolgende dae af en ander kere vir twee opeenvolgende weke.”

Die departement van basiese onderwys het ’n totale opgelope bedrag van R2,41 miljard wanbestee. “Sowat 80% van Suid-Afrikaanse skole is wanfunksioneel, grootliks weens swak en onvoldoende infrastruktuur. Die departement kon dié geld onder meer aangewend het om dringende benodigdhede soos skoolbanke, stoele, hand- en werkboeke aan te koop en te versprei.”

AfriForum se teenkorrupsie-eenheid gaan oor die volgende paar weke strafregtelike klagtes indien ingevolge artikel 86(1) van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur, 1999 (Wet No. 1 van 1999) teen die direkteurs-generaal van hierdie drie nasionale departemente.

Volgens Taute sal die klagtes teen die direkteurs-generaal gegrond wees op hul beweerde finansiële wanbesteding ingevolge wetgewing. “Die direkteurs-generaal is die rekenpligtige beamptes wat verantwoordelik is daarvoor om onreëlmatige, vrugtelose, verkwistende en ongemagtigde uitgawes te voorkom en skuldige partye aanspreeklik te hou. Die direkteurs-generaal is ook verplig om volledige rekords van die departement se finansiële sake in ooreenstemming met die voorgeskrewe wetgewing, norme en standaarde te hou.”

Staatsdepartement het hul ook skuldig gemaak aan sowat R4 miljard se ongemagtigde besteding teen die einde van 2015/2016.

Die departemente wat in die verband veral skuldig was, is:Departement van basiese onderwys – R160 miljoen.

Departement van binnelandse sake – R1 miljard.

Departement van internasionale betrekkinge en samewerking – R382 miljoen.

Departement van kommunikasie – R4 miljoen.

Departement van openbare werke – R261 miljoen.

Departement van vervoer – R2 miljard.

AfriForum moedig die publiek aan om die nodige druk op die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) te plaas om korrupte mense te vervolg deur ’n SMS met hul naam te stuur na 45352 (R1).

Similar Posts