AfriForum gaan hof nader om NVG te dwing om besluit oor vervolging van Malema te neem

Die burgerregtewaghond AfriForum het vandag tydens ’n mediakonferensie in Centurion aangedui dat hulle die hof gaan nader met ’n mandamus-aansoek om die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) te verplig om besluite te neem oor die vervolging van Julius Malema, leier van die EFF, rakende drie hangende sake teen hom. Dié drie sake waarin Malema geïmpliseer word, sluit in die korrupte bedrywighede van die maatskappy On-Point Engineering, Malema se beweerde aanranding van ’n polisieman, asook die afvuur van skote met ’n aanvalsgeweer. AfriForum is genoop om tot hierdie stap oor te gaan nadat die NVG ten spyte van herhaalde versoeke deur AfriForum onnodig sloer met hul besluite rakende Malema se vervolging.

AfriForum se privaatvervolgingseenheid het ook in ’n skrywe aan die NVG aangedui dat die organisasie aansoek om nolle prosequi-sertifikate sal doen om Malema self privaat te vervolg sou die NVG besluit om Malema nie te vervolg nie.

On-Point-bedrog en -tenderkorrupsie

AfriForum het in April 2018 geëis dat die NVG die saak teen Malema rakende die destydse korrupte bedrywighede van die maatskappy On-Point Engineering in Limpopo herinstel. On-Point, waarby Malema se familietrust ’n belang het, was aangestel om die Limpopo departement van paaie en vervoer in 2009 met infrastruktuurontwikkeling, ‑onderhoud en -beplanning te ondersteun en het omkoopgeld ontvang van suksesvolle tenderaars wat vir hierdie doel aangestel is.

AfriForum het reeds in Julie 2011 ’n saak in verband met On-Point se korrupte bedrywighede teen Malema by die polisie ingedien. Nadat die Valke die klag ondersoek en bewyse van korrupsie gevind het, het die NVG begin om Malema te vervolg. Die saak teen Malema is egter in 2015 van die hofrol geskrap nadat een van Malema se medebeskuldigdes weens siekte nie die verhoor kon bywoon nie. Die NVG het versuim om die saak weer op die rol te plaas. AfriForum het in Maart 2018 ’n skrywe aan die NVG gestuur waarin die saak se herinstelling geëis word. Die NVG het AfriForum in reaksie hierop skriftelik ingelig dat die herinstelling van die klagtes teen Malema oorweeg word en dat ’n finale besluit teen Augustus 2018 geneem sou word.

“Die NVG het egter steeds nie ’n besluit geneem om Malema te vervolg nie en kan ook nie aan AfriForum geldige redes verskaf vir die vertraging om geregtigheid te laat geskied nie. Die NVG se versuim om Malema spoedig vir hierdie beweerde misdaad te vervolg, is ’n gruwelike versaking van hul plig en skep die vals indruk dat Malema bo die reg verhewe is. AfriForum wil met sy regsoptrede teen die NVG ’n duidelike boodskap uitstuur dat Malema nie bo die reg verhewe is nie. Malema doen hom voor as ’n kampvegter vir armes, maar verryk homself en sy familie deur na bewering bedrog en tenderkorrupsie te pleeg. Die polisie en NVG het ’n spesiale mandaat om weerlose mense se regte te beskerm en tenderbedrog soos hierdie is niks anders as diefstal van die armes nie,” sê Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum.

Aanranding van polisieman

Malema en Mbuyiseni Ndlozi, EFF-woordvoerder, het in April 2018 na bewering ’n senior polisieman in uniform aangerand in ’n voorval wat op kringtelevisiekameras vasgevang is. Die senior polisieman het ’n klag by die polisie aanhangig gemaak, maar dit het geen polisie-aandag geniet totdat AfriForum se privaatvervolgingseenheid in Januarie 2019 navraag oor die ondersoek gedoen het nie.

Op een van AfriForum se navrae oor die saak het die ondersoekbeampte aangedui dat die dossier verdwyn het. Die ondersoekbeampte se verskoning was dat sy kollega dit op sy versoek by die aanklaer gaan inhandig het, maar nou nie die kantoor of aanklaer kan herroep nie. Verder is die klaer ook deur die ondersoekbeampte meegedeel dat hy reeds waarskuwingsverklarings van Malema en Ndlozi verkry het, terwyl dit nie die geval was nie.

“Die polisie se skreiende versaking van hul plig om alle klagtes te ondersoek en die NVG se versuim om sonder vrees, guns en vooroordeel te vervolg, ondermyn geregtigheid. AfriForum se privaatvervolgingseenheid is juis gestig om gelykheid voor die reg te waarborg. Dit is jammer dat ons ’n mandamus-aansoek moet bring om die NVG te dwing om sy grondwetlike plig uit te voer. Die NVG se onvermoë om besluite met betrekking tot vervolging te neem, het egter ’n verlammende effek op die strafregstelsel en daarom moet ons ingryp,” sê adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid.

Afvuur van skote

AfriForum het in Augustus verlede jaar klagtes by die Lyttelton-polisiestasie teen Malema ingedien nadat hy tydens die EFF se vyfjaarfeesvieringe in Mdantsane in die Oos-Kaap verskeie skote met ’n aanvalsgeweer afgevuur het.

Die videogreep waaruit die klagtes spruit is wyd op sosiale media versprei. Dit is na bewering deur ’n polisielid opgeneem wat ook gepoog het om klagtes op grond van die video teen Malema in te dien. Volgens hierdie persoon het die polisie egter geweier om die klagtes te aanvaar.

“Dít, tesame met die feit dat die NVG slegs informeel aangedui het dat hulle in die proses is om Malema se vervolging te oorweeg, laat vrae ontstaan oor sowel die NVG as die polisie se onafhanklikheid en of die beginsel van gelykheid voor die reg werklik nog van toepassing is in Suid-Afrika. Ons sien reeds dat talle van Malema se volgelinge hierdie handeling van hom navolg deur skote by onder meer begrafnisse af te vuur. Wanneer ’n prominente figuur soos Malema wegkom met die pleeg van ’n misdaad, stuur dit die boodskap uit dat dit aanvaarbaar is,” sê Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid.

AfriForum het op 11 Desember 2018, lt.genl. Sithole, die SAPD se registrateur en ook die nasionale kommissaris van polisie, versoek om ’n ondersoek na Malema se gedrag te loods en te bepaal of hy bevoeg is om oor ’n vuurwapen te beskik, al dan nie.

Ingevolge artikel 102 van die Wet op die Beheer van Vuurwapens, 2000 (wet no. 60 van 2000), kan ’n persoon ná ’n ondersoek deur die registrateur, wel onbevoeg verklaar word om ’n vuurwapen te besit. Dít gebeur as die persoon onder meer aangedui het dat hy/sy van voorneme is om hom-/haarself of iemand anders met ’n vuurwapen of ander gevaarlike wapen te dood, en/of vanweë die persoon se neiging tot geweld, wat beteken dat dit in niemand se belang is dat hy/sy ’n vuurwapen besit nie.

AfriForum het verskeie verklarings bekom wat op Julius Malema se gewelddadige aard dui. Tesame met sy uitlating dat hy “sal skiet om dood te skiet as dit by sy familie kom”, regverdig dit ’n ondersoek deur die registrateur, soos hierbo aangedui.

“Indien die NVG nie bereid of by magte is om Malema vir hierdie wandade te vervolg nie, sal AfriForum se privaatvervolgingseenheid graag die leisels oorneem. Dit is ondenkbaar dat ’n individu soos Malema met soveel regskendings wegkom omdat sowel die polisie as NVG versuim om hom aan die pen te laat ry. Wanneer dit blyk dat sekere individue bo die reg verhewe is, skep dit ’n gevaarlike presedent van wetteloosheid,” sluit Kriel af.

  • Sien die skrywe aan die NVG aangeheg.
  • Lees vorige mediaverklarings rakende hierdie sake:

https://www.afriforum.co.za/gerrie-nel-en-afriforum-beplan-om-malema-privaat-te-vervolg-vir-korrupsie/

https://www.afriforum.co.za/afriforum-kla-malema-aan-oor-afvuur-van-skote/

https://www.afriforum.co.za/malema-se-skiet-om-dood-te-skiet-moet-ondersoek-word/

Similar Posts