AfriForum, Engels versus Grace Mugabe: Die laaste woord is nie gespreek nie

Die burgerregtewaghond AfriForum het kennis geneem van die Suid-Afrikaanse Departement van Internasionale Verhoudinge en Samewerking se verlening van diplomatieke immuniteit aan die Zimbabwiese presidentsvrou, mev. Grace Mugabe, nadat sy mej. Gabriella Engels verlede week na bewering in ’n hotel in Sandton aangerand het.

“Die vertrek van mev. Mugabe terug na Zimbabwe en die verlening van diplomatieke immuniteit deur die Suid-Afrikaanse regering aan haar, is egter nie die einde van die saak nie,” sê Willie Spies, AfriForum se regsverteenwoordiger. Hy sê AfriForum het reeds Vrydag kennis gegee dat die organisasie mej. Engels gaan bystaan om ’n hersieningsaansoek te bring ten einde die besluit om diplomatieke immuniteit aan mev. Mugabe te verleen, ter syde te stel.

“Indien die hersieningsaansoek suksesvol is (en daar is baie goeie gronde om te glo dat so ’n aansoek inderdaad suksesvol kan wees) sal die deure vir die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) oopstaan om mev. Mugabe te vervolg. Indien die NVG dan sou weier, staan AfriForum se privaat vervolgingseenheid, onder leiding van adv. Gerrie Nel, gereed om met privaat vervolging namens mej. Engels voort te gaan. Ongeag of mev. Mugabe in Suid-Afrika is of nie, en ongeag of diplomatieke immuniteit aan haar verleen is, die laaste woord in dié aangeleentheid is nie gespreek nie,” sê Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum.

“Die stryd om geregtigheid in Zimbabwe asook die stryd om geregtigheid vir mej. Engels, sal dus voortgesit word totdat dit gewen is,” aldus Spies.

Similar Posts