| |

AfriForum dien strafregtelike klagtes teen Fikile Mbalula in

AfriForum het vandag strafregtelike klagtes van geldwassery en korrupsie teen Fikile Mbalula, voormalige minister van sport, by die Brooklyn-polisiestasie ingedien. Dit volg nadat Sedgars Sport, ’n sportprodukteverskaffer, na bewering tussen R300 000 en R680 000 in 2017 vir die Mbalula-gesin se reis na Dubai opgedok het.

AfriForum het die Openbare Beskermer (OB) in 2017 versoek om dié reis te ondersoek. Die OB het bevind dat Mbalula die Grondwet en ander wetgewing met hierdie reis oortree het. Sy het die Nasionale Vervolgingsgesag (NGV) ook beveel om ondersoek in te stel om te bepaal of die fondse wat gebruik is om vir die reis te betaal die opbrengs van geldwassery is of nie. Die NGV het egter na AfriForum se kennis nog geen stappe teen Mbalula gedoen nie.

Die OB het bevind dat Mbalula na Dubai gereis het sonder om daarvoor te betaal en het skynbaar geen idee gehad van hoeveel dit sou kos nie. Volgens die OB het nóg Mbalula, nóg sy kantoor die reëlings vir dié reis behartig. Mbalula het maande ná die reis nog nie daarvoor betaal nie en toe skuldeisers begin klop, het hy sy vriend Yusuf Dockrat, direkteur van Sedgars Sport, gekontak vir ’n leningsooreenkoms van R684 000 om vir die reis te help betaal. Sedgars Sport het onder meer die uniforms verskaf wat die Suid-Afrikaanse span by die Olimpiese Spele gedra het. Volgens die OB was dit “onvanpas” dat Mbalula ’n leningsooreenkoms met Dockrat gesluit het omdat hy ’n direkteur van ’n entiteit is wat sake met Sascoc doen.

AfriForum voer verder aan dat Mbalula se optrede ook die misdaad van korrupsie daarstel, soos bepaal in die onlangse uitspraak van die hoogste hof van appèl in die Staat vs. Scholtz en Andere .

“Die NVG se versuim om Mbalula op grond van die OB se aanbeveling te vervolg, het AfriForum genoop om hierdie klagtes in te dien. Die minister het na alle aanduidings met ‘vuil geld’ gaan vakansie hou en onregverdige voordeel getrek uit sy verhouding met Sedgars; hy moet daarvoor verantwoording doen. Geen politikus is bo die reg verhewe nie, en daarom voel AfriForum se teenkorrupsie-eenheid dat dit in sowel die openbare as die geregtigheid se belang is dat die NGV hom sonder vrees, guns of vooroordeel vervolg,” sê Monique Taute, hoof van AfriForum se teenkorrupsie-eenheid.

Similar Posts