| |

AfriForum dien korrupsieklagtes teen Shaun Abrahams in

Die burgerregte-organisasie AfriForum het vandag klagtes van korrupsie, bedrog, diefstal, afpersing en vervalsing teen Shaun Abrahams, die nasionale direkteur van openbare vervolging (NDOV), en ses ander toplede van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) ingedien.

“Dít volg nadat AfriForum ’n anonieme brief ontvang het wat uitbrei oor aantygings van ernstige strafregtelike gedrag. In hierdie brief is ’n pleidooi aan AfriForum gerig om te verseker dat daar nie toegelaat word dat die verrotting binne die NVG voortduur nie,” sê Monique Taute, hoof van AfriForum se teenkorrupsie-eenheid.
“Een aantyging verwys na ’n onderlangs-befondsde bedrieglike eis vir reiskostes van vier lede van die NVG. Die eise, ingedien vir goedkeuring om na Zeerust te reis, verdraai die feit dat hulle eintlik na Kaapstad gereis en R97 000 van hierdie onderlangse fondse spandeer het,” sê Taute.
In ’n verdere aantyging word daar vermoed dat ’n getuiebeskermingsvoertuig aan die NDOV toegewys is, wat die voertuig toe vir persoonlike voordeel gebruik het. “Ek glo dat die voorstel hier is dat alle regeringsbates streng bestuur word en dat die reisjoernale, ens. te alle tye – selfs in onderlangse omstandighede – die feitlike gebruik van dié bate moet reflekteer, maar in hierdie geval het die NDOV op ’n korrupte wyse ’n persoonlike en/of kostelose amptelike voordeel verseker waartoe hy nie geregtig is nie,” voeg Taute by.

Sy sê verder dat sy glo dat die aantygings van ’n baie ernstige aard is en versoek daarom dat die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) die aantygings, gemaak in die brief wat AfriForum ontvang het, moet ondersoek.
Taute sluit af dat hierdie aantygings nou genoeg rede behoort te wees vir president Cyril Ramaphosa om Abrahams uit sy pos te verwyder, aangesien dit duidelik is dat hy nie geskik en gepas is om die pos te beklee nie.

Similar Posts