|

AfriForum dien klagtes van wanbesteding by OB in

AfriForum het vandag ’n klag by die kantoor van adv. Thuli Madonsela, die openbare beskermer (OB), ingedien nadat dit aan die lig gekom het dat die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) R8,6 miljoen uit sy begroting aan motors vir pres. Jacob Zuma se vyf vroue spandeer het.

“Ons hoop dat die OB ’n diepgaande ondersoek na hierdie kwessie sal loods en dat sy moontlike ongerymdhede met die nodige erns sal aanspreek,” het Monique Taute, AfriForum se nasionale veldtogkoördineerder, gesê.

“Volgens die presidensiële handboek is die SAPD verantwoordelik vir die koste van die aankoop, onderhoud en lopende uitgawes van motorvoertuie van die president, adjunkpresident en hulle eggenote. Die voortgesette aankoop van dié tipe luukse motors is moontlik gemaak deur die feit dat geen limiet vir dié kostes voorgeskryf word nie,” het Taute bygevoeg.

AfriForum beskou die wanbesteding van belastinggeld as ’n nasionale krisis, en het in April vanjaar strafregtelike klagtes teen 13 provinsiale departementshoofde ingedien.

Dié burgerregte-organisasie wil die publiek aanmoedig om hierdie nuwe klagte te ondersteun sodat die nodige druk op die OB kan geplaas kan word.

Similar Posts