AfriForum het vandag as deel van sy “Genoeg is Genoeg”-veldtog – wat op Maandag, 18 April afgeskop het – ’n strafregtelike klag ingedien teen dr. Sifiso Mtshali, hoof van KwaZulu-Natal se departement van gesondheid. Dít volg nadat die organisasie die departement se jaarverslag ontleed het en gevind het dat Mtshali ingevolge artikel 86(1) van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur, 1999 moontlik aan ’n misdryf skuldig is.

Die jaarverslag van die provinsie se departement van gesondheid toon dat dié departement ongemagtigde uitgawes van R128 miljoen, en onreëlmatige uitgawes van R839 miljoen in die 2014/2015-boekjaar aangegaan het.

“Onreëlmatige uitgawes is al die uitgawes wat aangegaan is teenstrydig met wat die Wet voorskryf. Ongemagtigde uitgawes is uitgawes deur departemente wat nie in ooreenstemming met die goedgekeurde begroting bestee is nie. Dié buitensporige uitgawes kon voorkom word indien Mtshali sy verpligtinge nagekom het,” het Monique Taute, AfriForum se nasionale veldtogkoördineerder, gesê.

Die klag teen Mtshali is gebaseer op beweerde finansiële wanbesteding ingevolge die bogenoemde Wet. Departementshoofde is beamptes wat daarvoor verantwoordelik is om onreëlmatige, vrugtelose, verkwistende en ongemagtigde uitgawes te voorkom en om skuldige partye aanspreeklik te hou. “Mtshali het belastingbetalers in die steek gelaat deur te versuim om sy verantwoordelikhede na te kom,” het Taute gesê.

“Dit is tyd dat belastingbetalers druk op die Nasionale Vervolgingsgesag plaas om ʼn voorbeeld van departementshoofde te maak wat nie hul pligte ingevolge die Wet nakom nie. Dié departementshoofde is van die grootste bydraers tot die vermorsing van belastingbetalergeld. Die wanbesteding van belastinggeld is ’n nasionale krisis wat dringend opgelos moet word.”

AfriForum sal oor die volgende twee weke agt provinsies besoek waartydens strafregtelike klagtes teen 13 provinsiale departementshoofde ingedien sal word.

AfriForum wil die publiek aanmoedig om die nodige druk op die Nasionale Vervolgingsgesag te plaas deur ’n SMS met hul naam na 45352 te stuur (R1) of die klagtes op AfriForum se webtuiste by www.afriforum.co.za te onderteken.

Kliek hier vir die volledige verslag:

2016-04-18 Verslag – Wanbesteding van toegedeelde belastinggeld

TEKEN IN

Ons nuusbrief is maandeliks.

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

SLUIT AAN