|

AfriForum dien klagtes in weens R164 miljoen-wanbesteding deur Oos-Kaapse departement

AfriForum het vandag as deel van sy “Genoeg is Genoeg”-veldtog – wat op Maandag, 18 April afgeskop het – ’n strafregtelike klag ingedien teen Mahlubandile Qwase, voormalige hoof van die Oos-Kaapse departement van gesondheid. Dít volg nadat die organisasie die departement se jaarverslag ontleed het en gevind het dat Qwase ingevolge artikel 86(1) van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur, 1999 moontlik aan ’n misdryf skuldig is.

Die jaarverslag van die provinsie se departement van gesondheid toon dat dié departement ongemagtigde uitgawes van R74 miljoen, en vrugtelose en verkwiste uitgawes van

R90 miljoen in die 2014/2015-boekjaar aangegaan het.

“Ongemagtigde uitgawes is uitgawes deur departemente wat nie in ooreenstemming met die goedgekeurde begroting bestee is nie. Vrugtelose en verkwiste uitgawes is uitgawes wat tevergeefs gemaak is, maar vermy kon word as daar redelike voorsorg getref is. Dié buitensporige uitgawes kon voorkom word indien Qwase sy verpligtinge nagekom het,” het Monique Taute, AfriForum se nasionale veldtogkoördineerder, gesê.

Die klag teen Qwase is gebaseer op beweerde finansiële wanbesteding ingevolge die bogenoemde Wet. Departementshoofde is beamptes wat daarvoor verantwoordelik is om onreëlmatige, vrugtelose, verkwistende en ongemagtigde uitgawes te voorkom en om skuldige partye aanspreeklik te hou. “Qwase het belastingbetalers in die steek gelaat deur te versuim om sy verantwoordelikhede na te kom,” het Taute gesê.

“Dit is tyd dat belastingbetalers druk op die Nasionale Vervolgingsgesag plaas om ʼn voorbeeld van departementshoofde te maak wat nie hul pligte ingevolge die Wet nakom nie. Dié departementshoofde is van die grootste bydraers tot die vermorsing van belastingbetalergeld. Die wanbesteding van belastinggeld is ’n nasionale krisis wat dringend opgelos moet word.”

AfriForum sal oor die volgende twee weke agt provinsies besoek waartydens strafregtelike klagtes teen 13 provinsiale departementshoofde ingedien sal word.

AfriForum wil die publiek aanmoedig om die nodige druk op die Nasionale Vervolgingsgesag te plaas deur ’n SMS met hul naam na 45352 te stuur (R1) of die klagtes op AfriForum se webtuiste by www.afriforum.co.za te onderteken.

Kliek hier vir die volledige verslag:

2016-04-18 Verslag – Wanbesteding van toegedeelde belastinggeld

Similar Posts