|

AfriForum dien klagtes in weens R1,57 miljard-wanbesteding deur Vrystaatse departement

AfriForum het vandag as deel van sy “Genoeg is Genoeg”-veldtog – wat op Maandag, 18 April afgeskop het – strafregtelike klagtes ingedien teen Nthimotse Mokhes, hoof van die Vrystaatse departement van menslike nedersettings, en Ramathe Stanley Malope, hoof van die Vrystaatse departement van onderwys. Dít volg nadat die organisasie die departemente se jaarverslae ontleed het en gevind het dat Mokhes en Malope ingevolge artikel 86(1) van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur, 1999 moontlik aan misdrywe skuldig is.

Die jaarverslag van die provinsie se departement van menslike nedersettings toon dat die departement onreëlmatige uitgawes van R982 miljoen in die 2014/2015-boekjaar aangegaan het. Die departement van onderwys het in dieselfde jaar R589 miljoen aan ongemagtigde uitgawes bestee.

“Onreëlmatige uitgawes is al die uitgawes wat aangegaan is teenstrydig met wat die Wet voorskryf. Ongemagtigde uitgawes is uitgawes wat nie in ooreenstemming met die goedgekeurde begroting bestee is nie. Dié buitensporige uitgawes kon voorkom word indien die departementshoofde hul verpligtinge nagekom het,” het Monique Taute, AfriForum se nasionale veldtogkoördineerder, gesê.

Die klagtes teen die departementshoofde is gebaseer op beweerde finansiële wanbesteding ingevolge die bogenoemde Wet. Hulle is beamptes wat daarvoor verantwoordelik is om onreëlmatige, vrugtelose, verkwistende en ongemagtigde uitgawes te voorkom en om skuldige partye aanspreeklik te hou. “Die departementshoofde het belastingbetalers in die steek gelaat deur te versuim om hul verantwoordelikhede na te kom,” het Taute gesê.

“Dit is tyd dat belastingbetalers druk op die Nasionale Vervolgingsgesag plaas om ʼn voorbeeld van departementshoofde te maak wat nie hul pligte ingevolge die Wet nakom nie. Dié departementshoofde is van die grootste bydraers tot die vermorsing van belastingbetalergeld. Die wanbesteding van belastinggeld is ’n nasionale krisis wat dringend opgelos moet word.”

AfriForum sal oor die volgende twee weke agt provinsies besoek waartydens strafregtelike klagtes teen 13 provinsiale departementshoofde ingedien sal word.

AfriForum wil die publiek aanmoedig om die nodige druk op die Nasionale Vervolgingsgesag te plaas deur ’n SMS met hul naam na 45352 te stuur (R1) of die klagtes op AfriForum se webtuiste by www.afriforum.co.za te onderteken.

Similar Posts