|

AfriForum dien klagtes in weens R1,11 miljard-wanbesteding deur Limpopo-departement

 

AfriForum het vandag as deel van sy “Genoeg is Genoeg”-veldtog – wat op Maandag, 18 April afgeskop het – strafregtelike klagtes ingedien teen dr. Sipho Kababa, hoof van Limpopo se departement van gesondheid, en mnr. MC Matthews, rekenpligtige beampte van Limpopo se departement van onderwys. Dít volg nadat die organisasie die ouditeur-generaal (OG) se algemene gekonsolideerde jaarverslag ontleed het en gevind het dat Kababa en Matthews ingevolge artikel 86(1) van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur, 1999 moontlik aan misdrywe skuldig kan wees.

Die OG-verslag toon dat die departement van gesondheid vrugtelose en verkwiste uitgawes van R43 miljoen in die 2014/2015-boekjaar aangegaan het. Die departement van onderwys het in dieselfde jaar nie net R73 miljoen aan vrugtelose en verkwiste uitgawes bestee nie, maar ook R994 miljoen aan onreëlmatige uitgawes.

“Onreëlmatige uitgawes is al die uitgawes wat aangegaan is teenstrydig met wat die Wet voorskryf. Vrugtelose en verkwiste uitgawes is uitgawes wat tevergeefs gemaak is, maar vermy kon word as daar redelike voorsorg getref is. Dié buitensporige uitgawes kon voorkom word indien die departementshoof en die rekenpligtige beampte hul verpligtinge nagekom het,” het Monique Taute, AfriForum se nasionale veldtogkoördineerder, gesê.

Die klagtes teen die departementshoof en die rekenpligtige beampte is gebaseer op beweerde finansiële wanbesteding ingevolge die bogenoemde Wet. Hulle is beamptes wat daarvoor verantwoordelik is om onreëlmatige, vrugtelose, verkwistende en ongemagtigde uitgawes te voorkom en om skuldige partye aanspreeklik te hou.

“Die departementshoof en die rekenpligtige beampte het belastingbetalers in die steek gelaat deur te versuim om hul verantwoordelikhede na te kom,” het Taute gesê.

“Dit is tyd dat belastingbetalers druk op die Nasionale Vervolgingsgesag plaas om ʼn voorbeeld van departementshoofde te maak wat nie hul pligte ingevolge die Wet nakom nie. Dié departemente is van die grootste bydraers tot die vermorsing van belastingbetalergeld. Die wanbesteding van belastinggeld is ’n nasionale krisis wat dringend opgelos moet word.”

AfriForum sal oor die volgende twee weke agt provinsies besoek waartydens strafregtelike klagtes teen 13 provinsiale departementshoofde ingedien sal word.

AfriForum wil die publiek aanmoedig om die nodige druk op die Nasionale Vervolgingsgesag te plaas deur ’n SMS met hul naam na 45352 te stuur (R1) of die klagtes op AfriForum se webtuiste by www.afriforum.co.za te onderteken.

Similar Posts