|

AfriForum dien klag in ná Mpumalanga-departement R1,92 miljard vermors

AfriForum het vandag as deel van sy veldtog, Genoeg is Genoeg, wat op Maandag, 18 April afgeskop het, ’n klag teen mnr. Richard Mnisi, voormalige hoof van Mpumalanga se departement van gesondheid, ingedien nadat die organisasie die departement se jaarverslae ontleed en bevind het dat Mnisi moontlik skuldig kan wees aan ’n misdryf ingevolge artikel 86(1) van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur.

Die departement se jaarverslag toon dat die departement van gesondheid in dié provinsie onreëlmatige uitgawes van R1,92 miljard aangegaan het. In die 2014/2015-boekjaar was dit R818 miljoen.

“Onreëlmatige uitgawes is al die uitgawes wat nie aangegaan is soos die deur die Wet voorgeskryf word nie. Dié buitensporige uitgawes wat aangegaan is, kon voorkom word indien die departementshoof sy verpligtinge nagekom het,” het Monique Taute, AfriForum se nasionale veldtogkoördineerder, gesê.

Die klag teen Mnisi is gebaseer op sy beweerde finansiële wangedrag ingevolge die Wet. Die departementshoofde is die rekenpligtige beamptes wat verantwoordelik is om onreëlmatige, vrugtelose, verkwistende en ongemagtigde uitgawes te voorkom en die skuldige partye aanspreeklik te hou. “Mnisi het belastingbetalers in die steek gelaat deur te versuim om sy verantwoordelikhede na te kom,” meen Taute.

“Dit is tyd dat belastingbetalers druk op die Nasionale Vervolgingsgesag plaas om ʼn voorbeeld van departementshoofde te maak wat nie hul pligte ingevolge die wet nakom nie en daardeur een van die grootste bydraers tot die vermorsing van belastingbetalers se geld is. Die wanbesteding van belastinggeld is ʼn nasionale krisis wat dringend opgelos moet word.”

AfriForum sal oor die volgende twee weke agt provinsies besoek waartydens strafregtelike klagtes teen 13 provinsiale departemente se hoofde ingedien sal word.

AfriForum wil die publiek aanmoedig om hul stem te laat hoor sodat die nodige druk op die Nasionale Vervolgingsgesag geplaas kan word. ʼn SMS met hul naam kan gestuur word na 45352 (R1) of die klagtes op AfriForum se webtuiste kan by www.afriforum.co.za onderteken word.

Similar Posts