Adv. Gerrie Nel vervolg Tom Moyane vir aanranding

Tom Moyane, voormalige hoof van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), het vandag vir die eerste keer in die Roodepoort-landdroshof verskyn in die privaatvervolgingsaak teen hom. Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, vervolg Moyane in hierdie saak. Die datum vir Moyane se eerste verskyning is vir 11 Desember 2019 vasgestel, op voorwaarde dat Moyane en sy vrou geen kontak met die slagoffer of haar ma het nie, asook dat hy nie die saak met sy seun – wat ‘n verpligbare getuie is – bespreek nie.

AfriForum se privaatvervolgingseenheid gaan Monyane namens Lerato Maila privaat vervolg vir die aanranding met die doel om ernstig te beseer en kwaadwillige saakbeskadiging ten aansien van haar selfoon. Maila is die ma van Moyane se kleinkind en was tydens die beweerde voorval in ’n verhouding met Moyane se seun.

Volgens Maila het Moyane haar op 14 Mei 2018 by sy huis in Roodepoort, Gauteng, aangerand deur haar rond te stamp en in die gesig te skop. Voor die beweerde aanranding het Moyane ook haar selfoon teen ’n muur stukkend gegooi toe hy besef dat sy besig is om hom op te neem. Maila het dadelik ná die beweerde voorval haar ma gebel, wat haar aangeraai het om ’n klag by die Honeydew-polisiestasie aanhangig te maak. Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het egter reeds op 23 Mei 2018 besluit om Moyane nié te vervolg nie, omdat daar volgens die NVG nie genoeg bewyse teen hom is nie.

“Die NVG se versuim om Moyane te vervolg is ’n skending van hulle grondwetlike plig om geregtigheid na te streef. Boonop het die NVG hulle besluit binne slegs nege dae geneem, sonder om enigsins met die slagoffer te konsulteer. Die vlak van geweld teen vroue in die land is onaanvaarbaar en die feit dat daar nie dadelik teen Moyane opgetree is nie (ten spyte van ’n prima facie-saak teen hom), laat geweldslagoffers in die steek,” sê adv. Elijah Mamabolo, aanklaer by AfriForum se privaatvervolgingseenheid.

 

“Solank as wat hooggeplaaste staatsamptenare vervolging vryspring weens hulle politieke invloed, is daar nie gelykheid voor die reg nie. Die privaat vervolging van Moyane is in die breër samelewing se belang. Niemand behoort verhewe bo die reg te wees nie, dit is waarom die teenwig van ’n privaatvervolgingseenheid so belangrik is,” sê Natasha Venter, veldtogbeampte by AfriForum.

Similar Posts