Adv. Gerrie Nel staan gereed om bekende politieke partyleier te vervolg

Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaat vervolgingseenheid, gaan Julius Malema en sy medebeskuldigdes privaat vir bedrog en tenderkorrupsie vervolg, sou die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) nie toegee aan AfriForum se eis dat die saak teen Malema, rakende die destydse korrupte bedrywighede van die maatskappy On-Point Engineering in Limpopo, heringestel word nie. On-Point, waarby Malema se familietrust ’n belang het, was aangestel om die Limpopo departement van paaie en vervoer in 2009 met infrastruktuurontwikkeling, ‑onderhoud en -beplanning te ondersteun en het omkoopgeld ontvang van suksesvolle tenderaars wat vir hierdie doel aangestel is.

AfriForum het reeds op 24 Julie 2011 in terme van die Wet op die Voorkoming en Bestryding van Korrupte Bedrywighede, 2004 (Wet no. 12 van 2004) ’n saak in verband met On-Point se korrupte bedrywighede teen Malema by die Brooklyn-polisiestasie in Pretoria ingedien. Nadat die Valke die klag ondersoek en bewyse van korrupsie gevind het, het die NVG begin om Malema te vervolg. Die saak teen Malema is egter op 4 Augustus 2015 van die rol van die hoë hof in Polokwane geskrap, nadat een van Malema se medebeskuldigdes weens siekte nie die verhoor kon bywoon nie. Die NVG het versuim om die saak weer op die rol te plaas gedurende die twee jaar en agt maande wat sedertdien verloop het.

Weens die NVG se versuim om verder op te tree, het AfriForum op 19 Maart 2018 ’n skrywe aan die NVG gestuur waarin die saak se herinstelling geëis word. Die NVG het AfriForum in reaksie hierop skriftelik ingelig dat die herinstelling van die klagtes teen Malema tans oorweeg word en dat ’n finale besluit teen Augustus 2018 geneem sal word. Volgens adv. Nel sal AfriForum Malema privaat vervolg, sou die NVG besluit om die saak teen Malema en sy medebeskuldigdes nie weer in te stel nie.

Adv. Nel het aangedui dat dit onaanvaarbaar is dat die NVG meer as 30 maande laat verloop het sonder om die korrupsiesaak teen Malema verder te voer. “AfriForum se privaat vervolgingseenheid is juis gestig om te help toesien dat gelykheid voor die reg geskied en dat die NVG sy werk doeltreffend doen. Die NVG het sy plig versuim deur die saak teen Malema te laat sloer,” voeg Nel by.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, sê dat al dink Malema skynbaar hy is onaantasbaar, is hy beslis nie bo die reg verhewe nie. AfriForum sal daarom volgens Kriel toesien dat Malema tot verantwoording geroep word. “Iemand soos Malema wat voorgee dat hy die arm mense verteenwoordig en dan die staatskas plunder om homself te verryk ten koste van dienslewering aan arm mense, moet ontbloot word vir wie en wat hy is,” sê Kriel.

Kriel wys daarop dat AfriForum benewens dié korrupsiesaak tans ook met twee ander sake teen Malema besig is. AfriForum tref tans in samewerking met AfriSake voorbereidings vir ’n saak van minagting van die hof teen Malema. Dit volg nadat ’n hofbevel gedurende 2017 teen Malema bekom is om hom te verbied om mense aan te hits om grond te beset. Met sy jongste uitsprake oortree Malema egter dié hofbevel en maak homself sodoende skuldig aan minagting van die hof. Die ander saak teen Malema is die klag van aanhitsing om misdaad te pleeg, wat deur AfriForum ingedien is en in die Bloemfonteinse streekhof aangehoor word. Dié saak is deur die hof tot 27 Julie 2018 uitgestel.

Kort agtergrond oor die On-Point-saak:

On-Point Engineering is in 2009 onregmatiglik en gebaseer op vals inligting in die tenderdokumente deur Limpopo se departement van paaie en vervoer aangestel om inter alia die evaluering en selektering van suksesvolle tenderaars teen ’n vergoeding van bykans R52 miljoen oor ’n driejaartydperk te behartig. On-Point het self voordeel uit tenders wat toegeken is, getrek, ten spyte daarvan dat dié maatskappy bystand verleen het in die toekenningsprosesse. ’n Voorbeeld hiervan is die ooreenkoms wat tussen On-Point en Mpotseng Infrastructure CC gesluit is, waarin aangedui word dat On-Point vergoeding sou ontvang vir ’n tender wat aan Mpotseng Infrastructure toegeken is. In dié kontrak word ooreengekom dat On-Point se betrokkenheid selfs nie aan die nasionale tesourie geopenbaar mag word nie. AfriForum het ook ’n faktuur bekom waarin On-Point vergoeding van R1,2 miljoen van Mpotseng Infrastructure aanvra.

Similar Posts